GEORGE NUUS - Die Skandinawiese kookkuns dateer sover terug as die tyd van die Vikings en word gekenmerk deur vars en natuurlike produkte. Dit is presies dit wat sjef Petro Lotz van die Yellow House in Prins Albert aan die Suid-Kaap Fynproewersgilde en hulle gaste gaan demonstreer.
Hierdie unieke geleentheid vind plaas op 3 Junie om 09:00 in die nuwe Dias Hotel-restaurant, Chefs Emporuim.
Nadat Lotz haar sjefskwalifikasie bekom het, het sy onder andere ‘n restaurant bestuur, vir 17 jaar lank kookklasse en pretaande om die stoof aangebied, asook mense die fynere kookkuns geleer deur kooknaweke regoor die land te hou. Sy was ‘n Kokkedoor-deelnemer en is ook genooi om saam met Nataniël te kook. Lotz is opgewonde om hierdie ryke ervaring met die gilde te deel.
Alhoewel die Skandinawiërs bekend is dat hulle nie baie speserye in hulle geregte gebruik nie, kan fynproewers en hul gaste hulself gereedmaak vir ‘n demonstrasie van geurige disse wat insluit: Blini met Beetgravlax, sampioenstrudel met kaas- en okkerneutsous, Svenska Kottbullar (Ikea-frikkadelle), Hasselbak (aartappels), tweerigtingwortels en witpeperroomys met bessies.
Hiermee saam sal bypassende wyne bedien word om die beste uit die geregte te kry.
Die Fynproewersgilde nooi graag gaste en voornemende nuwe lede om die oggend saam te kom geniet. Indien jy belangstel om dit by te woon, kontak Santie van Vuuren by 082 461 0777 voor 27 Mei om ‘n plek te bespreek teen R170.
Slegs beperkte sitplekke is beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'