GEORGE NUUS - 'n Spesiale komitee van die George-stadsraad gaan 'n ondersoek van stapel stuur na beweerde wangedrag van die AIC-raadslid Abel Kiwit.
Kiwit het sy skootrekenaar, wat aan raadslede gegee word, op twee verskillende geleenthede verpand. Ná die eerste keer het hy dit teruggekoop. Die tweede keer het die rekenaar op die winkelrakke beland en is in Februarie 2017 deur 'n lid van die publiek gekoop.
Maande later het Kiwit egter 'n klag van diefstal by die polisie aanhangig gemaak, waarin hy aanvoer dat die rekenaar gesteel is. 'n Klag van meineed is teen Kiwit geopen.
Die George-raad het verlede week tydens hul sitting besluit om 'n spesiale komitee te stig om die aangeleentheid te ondersoek.
Volgens die munisipale woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, sal die komitee 'n bevinding maak oor "enige beweerde oortreding van die gedragskode vir raadslede en om toepaslike aanbevelings aan die raad te gee".
Kiwit het vroeër aan die George Herald gesê dat hy baie nalatig was. "Ek is glad nie trots op my aksies nie, ek was nie voorbeeldig nie," het hy gesê.
"Ek het reeds onderneem om die skade terug te betaal. Ek is jammer oor my optrede, want dit was onbetaamlik. Ek is ook maar net 'n mens."
Die George Herald verwag terugvoer oor die aangeleentheid van Kolonel AB Kriga, stasiebevelvoerder van Conville-polisie.
* A special committee of the George Council will launch an investigation into alleged misconduct by AIC councillor Abel Kiwit. Kiwit pawned the laptop provided to him in his official capacity as councillor, on two different occasions. The first time he bought it back, but the second time it was sold to a member of the public. Months later Kiwit reported his computer as stolen to the police, following which a case of perjury was opened against him. According to municipal spokesperson Chantel Edwards-Klose, the special committee will investigate the matter and make a finding on any alleged breach of the code of conduct, followed by appropriate recommendations to Council.
'We bring you the latest Mossel Bay, Garden Route news'