GEORGE NUUS - Nog 'n naambord waarop die naam PW Botha in George verskyn, kan moontlik verdwyn.
Pogings gaan aangewend word om 'n straat in die nywerheidsgebied, wat die naam van die eertydse president in die vorige politieke bedeling dra, te verander.
Die straat staan op die oomblik bekend as PW Botha-boulevard.
Dit volg kort op die hakke van die naamsverandering van PW Botha Kollege na die Hoër Tegniese Skool Eden / Eden Technical High School.
Minstens twee instansies, die PBI en die Abeeda Harris-stigting, is by die jongste pogings betrokke. Ingeligtes het egter daarop gewys dat daar bepaalde munisipale prosesse gevolg moet word voordat 'n naamsverandering kan plaasvind.
Virgill Gericke, PBI-leier, het gesê die party het reeds in 2016 'n mosie in die verband by die stadsraad ingedien. Volgens hom is die mosie destyds teengestaan en dit kon nie deurgevoer word nie.
Oor die jare het die PBI se standpunt nie verander nie. "Ons glo dat die PW Botha- hoofstuk finaal afgesluit moet word. As daar nog so 'n straatnaam is, herinner dit aan die duister era van ons geskiedenis."
Hy het gesê die PBI beoog om in die nabye toekoms weer 'n mosie in te dien. "Dit kan help met versoening tussen die verskillende rassegroepe. PW Botha was 'n verdelende persoon. Vir sommige was hy 'n held en vir ander 'n verdrukker en vyand."
Wilbur Harris, voorsitter van die Abeeda Harris-stigting, het gesê die stigting het in 2018 'n skrywe in die verband aan die George-munisipaliteit gerig. Daarin is gevra dat PW Botha-boulevard se naam verander na Abeeda Harris-boulevard. Abeeda is op 13 September 1976 deur die polisie in George tydens politieke onluste doodgeskiet.
Volgens Harris is 300 handtekeninge saam met die versoek ingehandig. Probleme het blykbaar ontstaan omdat dit by die verkeerde komitee beland het.
Die stigting is steeds ten gunste van die versoek en die stigting se bestuurskomitee vergader binnekort. Tydens die vergadering sal besin word oor hoe die voorgestelde naamsverandering hanteer moet word.
In short - Attempts to have the name of PW Botha Boulevard in the industrial area changed, will be revived. This comes after PW Botha College recently changed its name to Eden Technical High School. At least two institutions, the PBI and the Abeeda Harris Foundation, have indicated that they will strive for the name change of PW Botha Boulevard.
Wat sê gemeenskapsleiers?
Ds. Les Hayward, ‘n gemeenskapsleier en iemand wat Botha persoonlik baie goed geken het, het gesê so ‘n naamsverandering sal nie enige doel dien nie. “PW Botha het baie vir George gedoen en alle rasse het daarby gebaat. Dit is niks meer as regverdig dat iets behoue bly vir al die goeie dinge wat hy vir George gedoen het nie.”
Marius Swart, ‘n oudburgemeester, het gesê daar is baie name wat aanstoot kan gee vir mense. Hy het nie ‘n probleem met naamsveranderinge in die algemeen nie. Daar moet wel in gedagte gehou word dat ‘n naamsverandering koste-implikasies het. “Dit is geld wat eerder aan dienslewering bestee kan word.” Mense wat hul beywer vir naamsverandering dra nie altyd by tot die koste wat gepaard gaan met naamsverandering nie. Volgens hom is naamsveranderinge iets wat met groot omsigtigheid hanteer moet word
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'