GEORGE NUUS - Die polisie in Conville het 'n man in die maag geskiet na hy glo met 'n handgemaakte wapen op een van die lede afgestorm het.
Die voorval het Maandagoggend, 7 Oktober kort na middernag in Mentzstraat plaasgevind.
Twee lede van die Conville-polisie was op patrollie in die area toe hulle die twee mans saam met 'n vrou sien stap het.
"Die lede wou stop om te hoor of als in die haak was, maar toe ons voertuig stilhou het die twee mans te voet gevlug," sê die stasiebevelvoerder, kol. AB Kriga.
Die lede het die twee verdagtes agternagesit en kon daarin slaag om een van hulle vas te keer. Die verdagte het egter glo omgedraai en die handgemaakte wapen in die rigting van die polisieman gewys en op hom afgestorm.
"Die verdagte het probeer om die lid wat hom aangekeer het met 'n handgemaakte wapen aan te val waarna die lid homself beskerm het en die verdagte in die maag geskiet het," sê Kriga.
Die ander verdagte kon daarin slaag om te vlug. Die beseerde verdagte is in verband met die voorval in hegtenis geneem en sterk tans, onder polisiebewaking, in die hospitaal aan. Hy het vroeër die week 'n noodoperasie ondergaan.
Op sosiale media het inwoners hul ongelukkigheid oor die skietvoorval sterk bewoord en meen hulle die polisieman wat geskiet het, is "trigger happy".
Hulle het aangevoer dat die lid wat die verdagte geskiet het, in Julie vanjaar ook by 'n skietvoorval betrokke was. Dit is egter nie die geval nie. Die polisiehet bevestig dat die lid wat in die Julie-voorval betrokke was, wel op die toneel was, maar het nie die skoot afgevuur nie.
Die voorval is by die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) aangemeld.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'