Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het Maandag bevestig dat die bedrae betrokke by die sake waaraan Du Preez in die George-landdroshof skuldig bevind is, R325 000 en R54 300 beloop.
Du Preez het na sy skuldigbevinding appèl aangeteken, maar in November 2016 is die appèl van die hand gewys en hy is opdrag gegee om sy tronkstraf uit te dien.
Kaptein Lloyd Ramovha het namens die Valke in 'n persverklaring gesê daar is ook bewe-ringe dat Du Preez terwyl hy gewag het op die uitslag van sy appèl sy Facebook-vriende en Oudtshoorniete R5-donasies gevra het, "oënskynlik om 'n behoeftige kliënt se regskoste te vereffen."
Ramovha het gesê Du Preez het aangevoer die R5-donasies is in ruil vir gratis regsadvies wat hy oor die jare vir mense gegee het.
"Die aangeleentheid word egter nog ondersoek."
Ramovha het gesê Du Preez het nie gehoor gegee aan die opdrag om by korrektiewe dienste aan te meld nie en 'n lasbrief vir sy arrestasie is dienooreenkomstig uitgereik.
Volgens Visser, het Du Preez nie oproepe en boodskappe van die ondersoekspan beantwoord nie. "Sy woning was ook ontoegangbaar."
Visser het verduidelik dat Du Preez Vrydagoggend 20 Januarie deur die polisie agtervolg is, waar hy 'n familielid by die werk afgelaai het. Hy is kort daarna gearresteer.
In 'n onverwante voorval het Rolene van Rooyen, 'n prokureur by Johan Wagener Prokureurs op Oudtshoorn, bevestig dat sy ook besig is met 'n siviele geding teen Du Preez, namens een van haar kliënte.
Beweringe gedokumenteer deur Van Rooyen en gerig aan Du Preez (gedateer 21 Februarie 2012) lees dat 'n dame (wie se naam weerhou word van publikasie) op twee geleenthede ongeveer R15 000 gedurende Junie 2010 en R5 255 gedurende November by Du Preez in Trust inbetaal het.
Die doel was dat Du Preez die geld namens sy kliënt aan Absa moes oorbetaal. Van Rooyen het Maandag aan die Oudtshoorn Courant gesê die geld is nooit oorbetaal nie en kon tot op hede nie van Du Preez verhaal word nie.