GEORGE NUUS - 'n Pensioenaris van George, wat sedert Oktober verlede jaar tevergeefs probeer het om 'n nuwe lewenspolis by Clientèle te kanselleer, het hom ten einde raad tot George Herald gewend, en binne 'n week was sy probleem op 'n einde.
Faans Leen sê hy het bykans 70 oproepe na Clientèle gemaak en per SMS probeer om die polis te kanselleer, maar dit was vrugteloos.
Die premie is elke maand van sy bankrekening afgetrek nadat hy in Augustus 'n telefoniese ooreenkoms met die maatskappy aangegaan het.
Hy sê hy het nooit die kontrak ontvang nie. Dit het hom ongemaklik laat voel omdat hy met sy vrou se dood gesukkel het met die uitbetaling van 'n lewenspolis. "Ek het 'n nuwe polis uitgeneem juis omdat ek seker wou maak dat my kinders nie na my dood met dieselfde probleem sit nie."
Sy klagte was dat sy oproepe na Clientèle by 'n outomatiese stemboodskap uitgekom het, en dan was hy verlore. Hy het ook 'n bloutjie geloop toe hy per SMS probeer kommunikeer het. Niemand kon hom in Afrikaans antwoord nie ten spyte daarvan dan 'n agent hom per SMS belowe het dat 'n Afrikaanse persoon hom sal kontak.
Nadat George Herald Clientèle gekontak het, het die maatskappy die klagte ondersoek en bevestig dat Leen hul kliëntediensafdeling op 29 September geskakel het met 'n versoek om die polis te kanselleer. Die lyn is egter afgesny voordat die polis gekanselleer kon word.
Carmen Steynberg, Clientèle se senior kommunikasiebestuurder, sê uit die gesprek was dit duidelik dat dit Leen se bedoeling was om die polis te kanselleer.
"Ongelukkig, in hierdie geval, is die kliënt nie teruggebel en gehelp soos van ons diensagente verwag word nie. Gevolglik was die diens gelewer nie in lyn met Clientèle se diensstandaarde nie."
Steynberg sê die polis is gekanselleer en 'n terugbetaling van Leen se premies vanaf Oktober word gedoen.
"Ons het ook die diensstandaarde met die betrokke agent aangespreek om 'n soortgelyke situasie in die toekoms te vermy. SMS'e met 'n skakel na die polisdokumente is aan mnr. Leen gestuur met die aanvang van die polis."
Sy het bevestig dat Clientèle wel Afrikaanssprekende konsultante in verskeie departemente het sodat kliënte in die taal van hul keuse gehelp kan word.
"Ons vra opreg om verskoning vir mnr. Leen se ongerief."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'