Update
GEORGE NUUS - Die saak van die twee DA-raadslede wat die nuus gehaal het weens hul onderonsie in ‘n parkeerterrein, is gister, Donderdag 1 Februarie, in die George-landdroshof voortgesit.
Landdros Götz Essel het die voormalige DA-raadslid, Gert Niehaus, se getuienis aangehoor. Die ander raadslid, Johan Stander, was in die beskuldigdebank.
Die saak spruit voort vanuit ‘n insident in Oktober 2016, waartydens die twee raadslede slaags geraak het oor ‘n parkeerplek.
Beide Niehaus en Stander is intussen van die burgemeesterskomitee verwyder, en Niehaus het vroeër vandeesweek sy bedanking uit politiek op Facebook bekend gemaak. Niehaus het ook die DA-party verlaat.
Die saak is vir ‘n laaste keer uitgestel tot 13 Maart, aangesien Niehaus se huisdokter nie tans in die land is nie.
Die staatsaanklaer, Deshrie Padayachee, wou graag hê dat die dokter se getuienis aangehoor moes word. Niehaus het getuig dat hy nekbeserings tydens die voorval opgedoen het. Van die ander getuies in die saak is aanvanklik gevra om op 2 Februarie ook beskikbaar te wees, maar die landdros het gesê hy is in ieder geval nie beskikbaar nie, want hy is nie van dié reëling in kennis gestel nie.
Kru taal en Facebook
‘n Groot deel van die hofsitting is toegewy aan wie watter skeltaal gebruik het, en of dit werklik plaasgevind het. Niehaus het getuig dat Stander hom in die parkeerarea en op die tweede verdieping, voor die raadsaal, in kru taal aangespreek het. “Jy is ‘n stuk gemors, ek gaan jou d@#ner,” het Stander glo vir Niehaus in die parkeerarea gesê, toe Niehaus op ‘n plek geparkeer het wat Stander gevoel het aan hom toegewys is.
Niehaus ontken dat hy aan Stander daarop geantwoord het, “Jy moet f@#kof”. Niehaus het ook getuig dat Stander hom voor die raadsaal, in ‘n voortsetting van die insident in die parkeerarea, herhaaldelik sou sê: “Ek sal jou m@#r!”
Niehaus het verder getuig dat sy nekbeserings, waarvoor hy ‘n operasie van R185 000 moes ondergaan, te wyte was aan ‘n paar stampe wat Stander hom glo voor die raadsaal sou toedien. Twee stampe met ‘n paar lêers, en daarna ‘n paar stampe met sy bors. Niehaus het getuig hy was bang en geskok voor en tydens die insident, al het hy ‘n swart belt in judo.
Twee ander getuies het oor die skeltaal getuig.
Volgens die George-onderburgemeester, Gerrit Pretorius, is geen kru taal voor die raadsaal in sy teenwoordigheid gebruik nie. Hy het getuig dat Niehaus wel aan hom gesê het, dat hy vir Stander gesê het om te f@#kof.
DA-raadslid Belrina Cornelius, het weer op haar beurt getuig dat Stander herhaaldelik aan Niehaus gesê het: “Ek gaan jou m@#r!”
Op ‘n vraag van Stander se regsverteenwoordiger Eckert Brand, of daar faksies binne die DA bestaan, het Niehaus gesê “ja”. Brand het aangevoer dat Niehaus deur van sy eie faksie lede aangehits is om ‘n klag teen Stander by die polisie te maak. Brand het gehamer op die feit dat Niehaus baie aktief was kort na die voorval gedurende die 2016 Desembervakansie, volgens sy Facebook-foto’s en inskrywings.
Brand voer aan dat daar geen bewyse is dat die stampery tydens die voorval Niehaus se nekbeserings veroorsaak het nie.
Lees vorige artikels:
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'