GEORGE NUUS - Rüdger van Wyk, gebore en getoë in George, is ses jaar gelede gekies om deel te wees van die Kaapse Wynmakersgilde Protégé-program. Nou is hy besig om sy beroepspad as wynmaker uit te kerf met sy eie wynhandelsmerk, Kara-Tara wat hy saam met José Condé van Stark-Condé Wyne in Stellenbosch ontwikkel het.
Hy is ook in 2018 as Diners Club Jong Wynmaker van die Jaar aangewys.
Toe hy in 2014 in die Protégé-program opgeneem is, was Van Wyk 'n vierdejaar wynkundestudent aan die Universiteit van Stellenbosch. Die program het hom geleentheid gegee om by Kanonkop met Abrie Beeslaar as sy mentor te gaan werk. "Dit was 'n ongelooflike tyd - om 'n hele jaar te hê om van hom te leer, en die boodskap was duidelik: Uitnemendheid, uitnemendheid, uitnemendheid," vertel Van Wyk.
In die daaropvolgende jaar het hy by Nitida in Durbanville aangesluit om ondervinding in die maak van witwyn in 'n koeler streek op sy CV te kon lys. "Ek het altyd geredeneer dat ek ondervinding in alles moet opdoen sodat wanneer ek vir 'n werk sou aansoek doen, werkgewers 'n geleentheid sou hê om na my CV te kyk eerder as om my uit te gooi weens my velkleur."
Twee wonderlike geleenthede het in dieselfde jaar sy pad gekruis: Hy het deur die Gilde 'n geleentheid gekry om 'n oes in Boergondië mee te maak en 'n week voor sy vertrek daarheen, het 'n wynmakersassistentpos by Stark-Condé Wyne in Stellenbosch oopgegaan.
"My lewe het 'n groot wending geneem. Ek het die werk gekry en is ook toegelaat om voort te gaan met die Boergondië-oes. Dit was opwindend, wonderlik. Ek glo elke jong wynmaker moet die kans kry om 'n oes in Frankryk te gaan doen. Dit het my ingesteldheid oor alles verander - die lewe en wynmaak en dit het my laat besef dat as ek my merk in die industrie wou maak, ek hard sou moet werk en my wyn die praatwerk laat doen."
Hy het oor die afgelope klompie jare hard gewerk en soveel moontlik van José Condé, eienaar van Stark-Condé, geleer. "Ek het nie net van wynmaak in 'n kelder geleer nie, maar hoe die industrie werk, hoe om wyn te verkoop en natuurlik hoe om die boeke aan die einde van elke maand te laat klop."
Sy wyne behaal nou hoë punte onder die kenners. Dit gee hom soveel bevrediging, want as hy terugdink onthou hy hoe hy tydens wynskoue altyd aangesien is vir die een wat die ys moes gaan haal of iemand wat in die proelokaal werk.
"Dit was die persepsie wat die algemene verbruiker van my gehad het wanneer ek 'n glas wyn vir hulle skink," vertel hy.
Nou staan sy handelsmerk op rakke oorsee. "Onder die Kara-Tara-naam fokus ons op die verkryging van Pinot Noir en Chardonnay van koel-klimaat wingerde vanoor die Wynlande om goeie kwaliteit wyn vir uitvoer te maak. Die idee is om uit te brei en die handelsmerk reg oor die wêreld suksesvol te maak."
Sy droom is dat Kara-Tara eendag 'n trotse nalatenskap vir sy kinders sal wees. "Die term 'generasierykdom' sit altyd in my kop vas. My ouers het nie veel gehad in die lewe nie, maar tog het ek alles in die lewe gekry wat ek nodig gehad het om te kom waar ek nou is. Ek wil meer vir my kinders gee as wat ek kon kry - 'n moeilike taak."
Sterk punte
Wat is sy sterk punte? Hy het 'n groot passie vir mense en luister graag na hulle stories en wil almal graag help. "Ek dink dissipline is ook een van my sterk punte. Daar sal altyd terugslae in die lewe wees, maar die belangrikste is om elke oggend weer op te staan en harder te werk. Dis hoe my ouers my geleer het. Hulle was die grootste invloed in my lewe. Daar is nie 'n maklike en vinnige pad na 'sukses' nie. Dit vat baie jare se harde werk en opoffering en ek glo ek het nog nie die volheid van die term bereik nie. 'n Mens kan altyd beter."
Hy geniet dit om nuwe mense van reg oor die wêreld te ontmoet en gesellig te kan kuier en soms hul wyne te geniet.
"Dis ook altyd lekker wanneer die oesseisoen begin. Dit verskil elke jaar en daar is nuwe uitdagings wat mens moet aanpak. Die beste gevoel is om die wyn in die bottel te plaas, en as iemand dit proe, te hoor hoe lekker dit is. Dieselfde gevoel as iemand sê jou kos proe lekker."
In die kelder, 'n gunstelingplek vir wynmaker Rüdger van Wyk.
'100% Georgiet'
Wanneer hy oor sy agtergrond gesels, is Van Wyk trots om te sê, "Ek is 100% Georgiet en is trots om te sê ek was 'n leerder by Laerskool en Hoërskool Outeniqua. Ek terg graag my vrou en haar familie, want in my oë is Outeniqua Laer baie beter as George-Suid, waar hulle skoolgegaan het. Dan kry ek net oogrolle."
Sy hele familie en skoonfamilie woon nog hier. "Ons probeer soveel moontlik huis toe gaan. Vir my is daar nie 'n mooier plek in die hele land nie as George en die Tuinroete."
Sy ouers is Pamela en Rodney van Wyk, twee trotse Blanconaars. Sy pa, sy grootste rolmodel, is vanjaar oorlede. "Ek hoop hy kyk af op ons met trots en 'n glasie wyn en spog oor ons gesin daar uit die hemel.
Van Wyk is getroud met Barcha en hul seuntjie van 14 maande, Chad, is 'n regte woelwater.
Só word sy wyne gepunt:
- 2015 Oude Nektar 91 punte, Wine Advocate
- 2015 Oude Nektar 98/100, Tim Atkin MW’s South Africa Special Report
- 2016 Oude Nektar 96/100, Tim Atkin MW’s South Africa Special Report
- 2017 Three Pines Cabernet 95/100, Tim Atkin MW’s South Africa Special Report
- 2017 Three Pines Cabernet 91 punte, Wine Spectator
- 2016 Three Pines Cabernet 91 punte, Wine Spectator
- 2015 Stellenbosch Cabernet Sauvignon Top 100 Wines, Wine Enthusiast
- 2017 Three Pines Syrah 92 punte, Wine Spectator
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'