Die rooftog het langer as twee ure geduur. Die voorval is maar een van 'n vlaag inbrake en rooftogte wat George en omgewing die afgelope week getref het.
Die huishulp, Mavis Taks (25) was Maandagoggend omstreeks 10:45 besig om wasgoed in die agterplaas van 'n woning op die hoek van Mitchell- en Fichatstraat, George-Suid op te hang. Met haar terugkeer na die huis het sy 'n man gewapen met 'n rewolwer in die kombuis opgemerk. Hy het die eienaar van die huis, Andy Weitsz se drie maande oue kleindogter, Gemma Stoltz in sy arms gehad.
Nog twee mans het by die man met die rewolwer aangesluit. Die gewapende man het die rewolwer teen Gemma se gesig gedruk en die huishulp opdrag gegee om haar samewerking te gee anders gaan hulle die baba skiet. Sy het Gemma by die rowers geneem en gaan neerlê, waarna hulle haar (Taks) na die badkamer geneem het en haar hande en voete vasgebind het.
Terwyl die rowers besig was om die woning te plunder het Weitsz op die rowers afgekom. "Hulle het my met 'n potyster vleismeul in die gesig geslaan en die kluis se sleutels geëis," het Weitsz aan die George Herald gesê.
Omstreeks 13:00, 'n halfuur na Weitsz by die huis aangekom het, het die baba se moeder, Mandi Stoltz ook daar opgedaag onwetend van wat binne die huis aan die gang is.
Die rowers het haar by die voordeur aangerand. Sy het om hulp geroep waarna die rowers met twee gesteelde selfone in hul besit per voet van die toneel verdwyn het.
Die baba is deur vriende aan huis versorg. Weitsz is in die George Mediclinic opgeneem en behandel vir erge beserings aan sy regteroog en Dinsdagmiddag ontslaan. Stoltz en Taks is in die Mediclinic se trauma-eenheid ondersoek maar dadelik weer ontslaan.
Weitsz het vyf honde in sy erf. "Die rowers moes hul aandag op 'n manier afgetrek het en toe die huis binnegegaan het," het hy gesê.
Enige iemand met inligting oor waar die rowers hul kan bevind word versoek om a.o. Allie du Plessis te skakel by 044 803 4400.

Die polisie het vir ure lank die toneel Dinsdag in Mitchellstraat gefynkam vir leidrade. Vier mense is beseer toe rowers gewapen met 'n vuurwapen die woning geplunder het. Foto: Christo Vermaak
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS