Botha is Vrydagoggend kort na 07:00 in die Geneva Kliniek oorlede. Hy is op 9 Januarie in die Mediclinic George opgeneem na hy deur 'n aneurisme neergevel is, kort nadat hy met die Churg-Strauss-sindroom gediagnoseer is.
Tydens 'n George-munisipale roudiens Maandagmiddag het die raad se hoofsweep, mnr. Flip de Swardt gesê hy het 'n vriend verloor. "Daar is 'n leemte in my. Ek het iemand verloor wat vir my dierbaar was." De Swardt was 'n jare lange vriend, mede-DA-raadslid en oudonderwyser, van wyle Theuns Botha.
"Ag, hy was só jonk en in die fleur van sy lewe. Hy het nog só baie planne gehad," het 'n duidelik bewoë De Swardt gesê. Aan die ongeveer 100 roubeklaers het hy gesê: "Theuns was baie siek. Ons het hom gereeld besoek en baie jammer gekry. Sy dood het hom van baie pyn en lyding verlos."
Nog 'n DA-raadslid, mnr. Johan Stander het Botha se vriendin, me. Cyndy O'Donovan en sy neef, asook sakevennoot, mnr. Marchant Maasdorp bedank dat hulle sedert Desember by sy siekbed gewaak het.
Maasdorp het aan die George Herald gesê hy is Vrydagoggend gebel en gevra om na Botha se siekbed te kom, aangesien dinge nie goed gelyk het nie. "Hy het sy laaste asem uitgeblaas nét voor ek die kamer ingestap het."
Ds. Floors Meyer het tydens Maandag se roudiens gesê: 'n Kind is dood. Dit is iemand wat onvervangbaar is."
Botha het sy laaste openbare verskyning gemaak tydens 'n burgemeestersonthaal tydens die afgelope George-oumotorskou. Burgemeester, Charles Standers, het kort voor Botha in 'n rolstoel met 'n masker om sy mond die saal ingestoot is, verskoning gemaak en gesê Botha is baie siek. "Motors is sy passie en hy sou graag vanaand hier wou gewees het." Botha het ieder en elk verras toe hy onder 'n wakende oog van medici, Maasdorp en O' Donovan die openbare arena betree het, min wetende dit sou sy laaste openbare verskyning wees.
Botha laat sy moeder me. Martsie Botha, asook twee seuns, Jaco (12) en Jeandré (13) agter. 'n Troosdiens is Dinsdagmiddag in die NG Moederkerk deur ds. Hennie Bekker gehou, waarna 'n privaat verassing plaasgevind het.
* Georgians this week said farewell to the George Councillor, Mr Theuns Botha. Botha last Friday morning lost the fight against Churg-Strauss-sindrom in die Geneva Clinic.

Me. Cyndy O' Donovan ondersteun raadslid Theuns Botha tydens sy laaste openbare verskyning by 'n burgemeestersonthaal tydens die George-oumotorskou.
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS