GEORGE NUUS - George-hospitaal het tans geen oop beddens in hul intensiewe sorgeenheid om Covid-19 gevalle te akkommodeer nie.
Hoof van rampbestuur, Gerhard Otto, het vanoggend gesê hulle hoop dat beddens in die ongevalle-afdeling beskikbaar sal word, anders kan daar ‘n groot krisis oor die naweek ontstaan.
“Mense is op pad na die Tuinroete om vakansie te hou. As daar enige padongelukke plaasvind, wat moontlik kan plaasvind, gaan ons probleme ondervind,” het hy gesê.
Tans word daar gekyk na moontlikhede om van die Covid-19-pasiënte van George-hospitaal na ander hospitale oor te plaas. Otto het gesê hulle hoop verder dat die nuwe drankregulasies sal verhoed dat die hospitaal se ongevalle afdeling verdere druk sal ondervind met ‘n instroming van trauma pasiënte weens alkoholverwante oorsake.
Weermag en strande
Rampbestuur het nog geen terugvoer ontvang oor hul versoek om hulp in die Suid-Kaap van die weermag nie. Volgens Otto is die versoek verlede Dinsdag aan die provinsiale gesamentlike operasionele eenheid gestuur. Die idee was dat die weermag sal help om toe te sien dat die publiek by Covid-19-regulasies hou. Hulle sou help met patrollies en by padblokkades.
Verder word daar steeds gewag op terugvoer van president Cyril Ramaphosa oor die jongste verbod op besoek aan strande in die Tuinroete.
Die DA het intussen die howe om hulp genader. Die saak word Maandag in die Kaapse hooggeregshof aangehoor.
Daling in getalle
Op ‘n positiewe noot wys die jongste grafieke ‘n effense afwaartse neiging in die hoeveelheid positiewe Covid-19 gevalle in George, Mosselbaai, Knysna en Plettenbergbaai – die dorpe in die Tuinroete wat tans as brandpunte bestempel word. “Dit lyk belowend,” het Otto gesê.
Grafika: Effense daling in gevalle:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'