Update
GEORGE NUUS - Nog twee verdagtes is gistermiddag, Woensdag 7 Desember, in Pacaltsdorp aangekeer in verband met die moord op Denzil Fortuin (42) van Pacaltsdorp.
Die twee mans, 20 en 40 jaar oud van Pacaltsdorp, is in Andersonville deur lede van die Pacaltsdorp-polisie se misdaadvoorkoming-eenheid aangekeer waar hulle naby Valksingel geloop het.
Daar is ook beslag gelê op 'n silwer BMW wat in die middedorp geparkeer was. Beide verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.
Nog vier verdagtes Vele Tome (38), Simphiwe Harmans (30), Kuzokuhle Dyandyi (29) en Sibongile Maseti (28) van Thembalethu is Sondag kort na die skietvoorval aangekeer. Dié verdagtes het Dinsdag in die George-hof verskyn waar hulle saak tot 19 Desember vir 'n formele borgtogaansoek uitgestel is. Hulle bly in aanhouding.
Fortuin is Dinsdagoggend omstreeks 04:00 in die George-hospitaal oorlede. Hy is Sondagoggend vier keer in sy kop en lyf geskiet, nadat 'n groep mans op hom losgebrand het op die hoeke van Houtkapper- en Proteastraat in Andersonville, Pacaltsdorp.
Nog 'n jong man wat aangerand is, is ook per ambulans na die hospitaal geneem en later ontslaan.
Daar word beweer dat minstens agt aanvallers in twee voertuie, 'n silwer asook swart BMW, by 'n huis op die hoek gestop, en verskeie skote op Fortuin afgevuur het.
Volgens inwoners is die twee mans wreed deur hulle aanvallers aangerand en is daar herhaaldelik probeer om een van die slagoffers in een van die motors se kattebakke te dwing, maar kon die slagoffer daarin slaag om te ontsnap.
"Sowat agt van hulle het die erf binne-gegaan, daar was 'n vrou ook by hulle. Hulle het daai een seun so geslaan, maar dit was asof hy bonatuurlike krag gehad het, en hulle kon hom nie in die boot kry nie. Die ander man was toe reeds geskiet en het daar gelê," vertel een inwoner.
Die verdagtes het daarna in die voertuie geklim en van die toneel af weggery.
Volgens lt.kol. Malcolm Pojie, die provinsiale woordvoerder, is daar tans baie gerugte wat die ronde doen oor wat tot die aanval gelei het.
"Die motief vir die aanval vorm deel van die ondersoek en ons kan nog nie met sekerheid sê wat presies daartoe aanleiding gegee het nie," het Pojie bygevoeg.
Na wat verneem word, is geen vuurwapens in die swart BMW saam met die vier verdagtes gevind nie, en word daar vermoed dat die wapens wat in die aanval gebruik is, in die tweede voertuig was.
Enigiemand met inligting oor die voorval kan die ondersoekbeampte, sers. Cindy Horn kontak by 044 803 9100 of 08600 10111.
Polisie se reaksietyd
Inwoners waarmee George Herald gepraat het, sê hulle het Sondagoggend gesukkel om die polisie in die hande te kry om hulp te kom verleen. Inwoners meen dis die begin van die feesseisoen en daarmee saam kom meer voorvalle van misdaad, veral kontakmisdrywe en vra hulle wie of watter nommers hulle moet skakel as hulle die hulp van die polisie nodig het?
Klagtes oor die Pacaltsdorp-polisie se reaksietyd is niks nuut nie. George Herald het al verskeie kere hieroor berig en inwoners kla al vir jare daaroor.
Een inwoner met kennis skryf die probleem toe aan 'n "ernstige tekort aan personeel".
"Daar is eenvoudig te min mense by die stasie. Kyk hoe het Pacaltsdorp oor die jare uitgebrei, terwyl niks by die stasie verander het nie. Die afgelope paar jaar is verskeie beamptes na ander stasies verplaas en ons het sommige aan die dood afgestaan. Daar is treurige polisiebeamptes, maar die wat wel opdaag vir werk, werk hard en loop daardie ekstra myl. Hulle gee hulle beste, maar kan ook maar net doen wat menslik moontlik is."
Nog 'n inwoner sê Pacaltsdorpers moet ernstig raak oor misdaad in die area. "Ons kan nie by vriende en familie kla oor ons misdaadsituasie nie. Inwoners moet gemeenskapsvergaderings toe kom, deel neem aan optogte na die polisiestasie as daar oor die swak dienslewering gekla word en betrokke raak by die buurtwagstrukture. Die polisie en elkeen van ons het 'n rol om te speel om misdaad te bekamp."
Groot dank is uitgespreek teenoor die polisielede wat wel opgedaag en die vier verdagtes aangekeer het, asook lede van die onderskeie buurtwagte en die Pacaltsdorp-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF).
'n Navraag oor klagtes rakende die polisie se reaksietyd is vroeër die week aan die Pacaltsdorp-polisie en provinsiale woordvoerder gestuur, maar teen druktyd is geen reaksie ontvang nie.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'