GEORGE NUUS - Getuies se ontwykende, vae antwoorde gedurende die geregtelike ondersoek in George na die omstrede Niflas Silhouette Platform (NSP), het die regspan verlede week erg frustreer.
NSP, wat deur die George finansiële instelling, Niflas bedryf is, is in Desember 2015 gelikwideer na die platform met beleggings van bykans R150 miljoen in die moeilikheid beland het toe die mikrolener Bridge Finance in 2014 onder besigheidsredding geplaas is.
Die regspan, wat namens mede-likwidateur, Danie Acker van Rauch Gertenbach Prokureurs optree, het die stigter en hoof uitvoerende beampte van Niflas, Pieter Strydom, sy vrou en mede-direkteur Carina, en 'n voormalige direkteur en finansiële adviseur, Jan Mostert in die George-landdroshof met ongemaklike vrae gepeper.
Fanie Diedericks het namens die drie opgetree.
Verskeie debiteure is ook ondervra in 'n poging om uitstaande gelde vir die beleggers te in.
Die voorsittende beampte was landdros Emma Moloro en die ondervraers was prokureurs John Walker en Reinhardt Potgieter van Schabort & Walker Inc. in Pretoria.
Honderde, meestal bejaarde plaaslike beleggers, het hulle aftreegeld in NSP belê en was oortuig hulle geld is in veilige hande.
Van die beleggers was reeds langer as 20 jaar kliënte van Pieter Strydom en het verwag dat hulle jaarliks 'n opbrengs van 13% sou ontvang.
Carina Strydom - Niflas-rolspeler
Beleggings
Sowat R60 miljoen van hulle geld is in Bridge belê terwyl die orige R90 miljoen verdeel is tussen lae-opbrengs eiendomme en ondernemings of geleen is aan verskeie nuutgestigte maatskappye.
Een van die maatskappye was Greenbay, 'n kleuterskool in Humansdorp wat deur Pieter Strydom se suster bedryf is.
'n Residensiële eiendom is deur Picture Perfect gekoop met die doel dat Pieter Strydom se seun die eiendom sou oorkoop.
Kaptein RP van der Westhuizen van die handelsmisdaadeenheid van die Valke het ook die verrigtinge bygewoon.
Van der Westhuizen het aandagtig geluister aangesien die eenheid eersdaags moet beslis of een of meer van die rolspelers krimineel vervolg moet word.
Mostert het Donderdagmiddag getuig dat hy vir alle praktiese doeleindes insolvent is en dat hy nie die R195 000 persoonlike lening, insluitend rente wat hy aan Niflas skuld, sal kan terugbetaal nie.
"Ek het my voertuig verkoop, my huis is teruggeneem en ek het op die oomblik nie 'n inkomste nie."
Walker het aan Mostert 'n dokument gewys wat glo toon dat miljoene van die beleggersgeld op items soos reisonkoste, kantoormeubels en telefoonrekenings spandeer is.
Hy wou by Mostert weet of die direkteure destyds die gebruik van beleggersgeld vir infrastruktuur goedgekeur het, waarop Mostert geantwoord het: "Ja, ek het die notule."
Daarop het Walker met meer as net 'n sweempie ironie reageer, "So julle sê: Kom ons leen geld by ons beleggers, want ons sien onsself as 'n goeie beleggingsbate. Regtig? Ek sien myself as 'n baie aantreklike man, maar ek is seker baie ander mense stem nie saam nie!"
Pieter Strydom het Vrydagoggend getuig, terwyl Carina Strydom om 14:00 die getuiebank betree het.
Likwidateur Danie Acker - Rauch Gertenbach Prokureurs
Familietrust
Walker het Strydom daarop gewys dat die NSP-beleggingsdokument nooit die belegger oor enige risiko waarsku nie.
"Die kontrak meld slegs dat die persone aan wie beleggersgeld geleen sal word, noukeurig nagegaan sal word en dat geld veilig uitgeleen sal word."
Volgens Walker is die administratiewe maatskappye soos Greenbay se aandeelhouding besit deur die sentrale maatskappy, Niflas SA Cape Holdings, waarvan die uiteindelike aandeelhouer die Strydom familietrust is.
Walker het volgehou dat die lenings dus aan familielede was, maar Strydom het dit ontken. Strydom het gesê dat 'n maatskappy, Moneybox, gestig is om 'n 50% aandeel vir R1-miljoen in 'n plaas te koop, waarop Walker gesê het Strydom het beleggersgeld vir homself gebruik. Strydom het ten sterkste hiermee verskil.
'n Lang relaas oor die betaling van kommissie het gevolg waartydens Strydom herhaaldelik aangevoer het hy verstaan nie die vraag nie.
Landdros Moloro het Strydom aangespreek en gesê dit kom voor of hy vrae ontwyk.
Pieter Strydom - Niflas-rolspeler
Geld vir infrastruktuur
Carina Strydom het getuig sy was een van sewe direkteure en wou haar nie uitlaat oor die miljoene wat glo op infrastruktuur spandeer is nie.
Sy het Walker na Theuns Botha, die voormalige finansiële direkteur van Niflas verwys.
"Ek het my laat lei deur finansiële kenners en ouditeure."
Walker het haar hieroor gehamer. "U het reeds saamgestem dat slegs winste na SA Cape Holdings toe kon vloei. So u het net aangeneem dat die geld in 'Holdings' wins van NSP was?"
Sy het gesê dat die geld van een van hulle ander platforms afkomstig kon wees, waarop Walker gevra het indien SA Cape Holdings wel beleggerskapitaal spandeer het, of dit diefstal sou wees?
Carina Strydom het geantwoord: "Ek weet nie."
Die ondervragings word op 19 en 20 April voortgesit.
Theuns Botha - Niflas-rolspeler
• Volgens Danie Acker is R30 miljoen van die R150-miljoen geïn en hoop hy om deur die geregtelike ondersoek nog R40-miljoen te in. Van Bridge moet nog R60-miljoen verhaal word, maar die mikrolener gaan op die oomblik voort om sake te doen aangesien 'n hoogeregshofuitspraak oor 'n likwidasieaansoek teen Bridge al sedert Mei 2017 sloer.
Lees vorige artikels:
- Auctions secure over R17 million for Niflas creditors
- Niflas liquidation going ahead
- Niflas Silhoutte denied leave to appeal
- Niflas Silhouette in liquidation
- Niflas likwidasie-aansoek uitgestel
- Niflas liquidation battle heats up
- Liquidation application in court next week
- Niflas Silhouette to fight liquidation
- Niflas Silhouette to be liquidated
ARTIKEL: ILSE SCHOONRAAD, GROUP EDITORS EDITOR-AT-LARGE
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'