Video
GEORGE NUUS - Die organisasie Kaboni Consult South Africa het op Saterdag 23 November 'n plaaslike byeenkoms aangebied wat genooide mense van George en omgewing geleentheid gegee het om deel te neem aan gesprekvoering as deel van die Nasionale Dialoog.
Dit is by die George-museum gehou na aanleiding van president Cyril Ramaphosa se oproep, kort ná die vorming van die Regering van Nasionale Eenheid, vir so 'n dialoog.
Die doel is om landsburgers vanuit alle sfere van die samelewing byeen te bring om saam oor hulle behoeftes en verwagtings vir die toekoms te praat.
Volgens die Inklusiewe Samelewingsinstituut is die dialoog 'n pad na 'n plan vir die land wat deur die mense self saamgestel is.
Die besprekingspunte by Saterdag se sessie was onder meer die Grondwet, die sinvolle samestelling van die parlement, apartheid, waarheid en versoening, die hantering van etnisiteit, die vakbondwese, kultuur en sport, en veiligheid en sekuriteit.
Kidron Kaboni, hoof van Kaboni Consult, het gesê dis is belangrik dat George deel vorm van die dialoog.
"Ons eerste byeenkoms was klein, maar dit was 'n goeie proeflopie vir ons volgende gesprek wat ons hoop heelwat groter sal wees en vroeg in volgende jaar sal plaasvind. Ons wil graag inwoners vanoor ons distrik betrek.
"Deur met mekaar te praat, kan ons as burgers groei, en so sal ons land groei en kan ons ook 'n beter nalatenskap bewerkstellig vir toekomstige geslagte."
Van die gesprekslede het saamgestem dat Suid-Afrika se apartheidsverlede steeds 'n impak op mense se psige en onderlinge verhoudings het, en dat daar baie onverwerkte pyn is. Kaboni het gesê die waarheid "het skade gely" tydens die Waarheids- en Versoeningskommissie se verhore.
Wilbur Pedro (links) en dr. Allen Grootboom.
Dr. Allen Grootboom van Klein-Brakrivier het gesê daar moet gesprek gevoer word oor hoe Suid-Afrikaners rassisme regtig verstaan, asook hoekom onderwys veral die bruin kind nadelig geraak het. Die bevolkingsregister speel 'n rol in hoe burgers se lewens geraak word. "Hoekom is dit nog steeds bruin, wit en swart? Dit is 'n mite dat dit gaan oor statistiese doeleindes."
Hy het die vraag gevra of enigiemand al ooit daaraan gedink het om George se naam te verander vanuit die oogpunt dat die distrik die bakermat van die Khoisan-mense is.
"Ons moet ons eie geskiedenis herskryf, want niemand gaan dit vir ons doen nie. As die leeu nie die kant van sy storie vertel nie, sal die jagter altyd reg wees."
Grootboom het sy doktorale verhandeling gedoen oor die impak van rassisme op mense se toekomsverwagting.
Britney Sauer-Moore en Gavin Constance het aan die gesprek deelgeneem.
VIDEO: Dr Allen Grootboom gesels:
VIDEO: Die groep in gesprek:
Hierdie groep Georgiete het die eerste van 'n reeks gesprekke bygwoon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’