Update
GEORGE NUUS - 'n Sug van verligting is op Maandag 31 Oktober in die George-streekhof gehoor, toe drie persone van belang, Merle Combrinck, die destydse vrou van die vermoorde Leon du Randt (56), haar huidige man, Ronald Combrinck en een van die Du Randts se dogters vrygespreek is van enige betrokkenheid in Du Randt se moord.
Tydens uitspraak is gesê die hof het bevind dat daar geen prima facie-getuienis is om hulle enigsins aan Du Randt se moord te verbind nie.
Dié uitspraak volg op die formele geregtelike doodsondersoek ná Du Randt meer as 10 jaar gelede op 14 Februarie 2012 in sy huis in Meentstraat, Heatherpark, wreed vermoor is.
Sy aanvallers het hom in die vroeë oggendure in sy bed aangeval. Sy liggaam is in die hoofslaapkamer aangetref met verskeie oop wonde aan sy kop.
In daardie stadium was daar nie genoeg bewyse om 'n verdagte te identifiseer nie en die ondersoek het tot Augustus vanjaar geduur.
Tydens uitspraak is genoem dat baie van die getuienis wat gelewer is slegs gebaseer is op hoorsê en dus nie tydens 'n verhoor water sal dra nie.
Du Randt se destydse vrou, Merle, was die oggend van die moord ook in die huis. Sy het glo die honde hoor blaf en opgestaan om ondersoek in te stel. Sy het geluide in die kombuis gehoor waarna sy onder die bed in 'n gastekamer weggekruip en die polisie per selfoon geskakel het.
Die inbrekers het vermoedelik toegang verkry deur die voordeur wat nie gesluit was nie. Tydens die ondersoek het sy aan die hof gesê dat die deur se slot foutief was en as hy nie hard genoeg toegemaak was nie, het hy nie vasgeknip nie.
Volgens destydse verklarings is twee skootrekenaars en 'n selfoon gesteel.
Verskeie getuienis is gedurende die ondersoek deur die hof aangehoor waaronder dié van die ondersoekbeampte, en die drie persone van belang.
Na afloop van die saak het die Combrincks se regsverteenwoordiger, Werner Janse van Rensburg van VR Law Sandton, aan George Herald gesê dat hy van mening is dat die ondersoekspan nie van al die mediese tegnologie in die vorm van forensiese ondersoeke en laboratorium-ontleding wat tot hul beskikking is, gebruik gemaak het nie.
"Die misdaadtoneel was nie beveilig nie en daar was geen DNS-toetse gedoen nie. Verder het die polisie-offisier wat eerste op die toneel was ook nie dadelik die forensiese patoloog ontbied om die presiese tyd van Du Randt se dood vas te stel nie. Hulle het die patoloog te laat ontbied," het hy gesê.
Janse van Rensburg meen die ondersoek kon 'n ander wending ingeneem het indien daar wel van al die mediese forensiese tegnologie gebruik gemaak was. Mits dit gebeur het, sou hulle moontlik deur DNS-bewyse die moordenaars kon vastrek.
"In plaas van 'n ordentlike forensiese mediese ondersoek het die ondersoekspan bloot as leunstoelbeoordelaars gekyk na 'n situasie waar mev. Combrinck (Du Randt) onder 'n bed weggekruip het terwyl die rowers haar man wreed vermoor het. Haar verduideliking aan die hof was voldoende en Combrinck se alibi dat hy nie by die toneel kon wees ten tye van die moord nie, is deur die hof aanvaar.
"Dis 'n jammerte dat statistiek vir die polisie soms belangriker is as om regverdige uitslae te kry en dat 'n heksejag uitgevoer word op individue wat ook slagoffers is, in plaas daarvan dat daar bewyse deur beskikbare mediese tegnologie gebruik word om die werklike misdadigers vas te trek. Die nagmerrie van meer as 10 jaar is uiteindelik verby," het Janse van Rensburg gesê.
Vorige arikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'