Update
GEORGE NUUS - 'n Dekade ná die moord op die George-sakeman, Leon du Randt (56) is die formele geregtelike doodsondersoek verlede Vrydag, 12 Augustus, voltooi. Uitspraak in die ondersoek sal op 24 Oktober in die George-hof gelewer word.
Die ondersoek volg na Du Randt op Valentynsdag in 2012 in sy huis in Meent-straat, Heatherpark, vermoor is.
Sy aanvallers het hom in die vroeë oggend-ure in sy bed aangeval. Sy liggaam is in die hoofslaapkamer aangetref met verskeie oop wonde aan sy kop. In daardie stadium was daar nie genoeg bewyse om 'n verdagte te identifiseer nie en die ondersoek het tot Augustus vanjaar geduur.
Du Randt se destydse vrou, Merle, was die oggend van die moord ook in die huis. Sy het glo die honde hoor blaf en opgestaan om ondersoek in te stel waarna sy in 'n gastekamer weggekruip en die polisie per selfoon geskakel het.
Die inbrekers het vermoedelik toegang verkry deur die voordeur wat nie gesluit was nie.
Volgens destydse verklarings is twee skootrekenaars en 'n selfoon gesteel, maar volgens getuienis wat gedurende die geregtelike doodsondersoek in die hof gelewer is, is slegs 'n selfoon gesteel.
Verskeie getuienis is gedurende die ondersoek deur die hof aangehoor waaronder dié van die ondersoekbeampte, Du Randt se destydse vrou, haar huidige man (wat ook 'n goeie vriend van Du Randt was) en een van die Du Randts se dogters.
Vorige artikel: Nog niks na 2 jaar na moord
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'