GEORGE NUUS - 'n Inkopie-uitstappie op Donderdag 26 Maart by Wellington Spar het vir 'n inwoner van Tuiniqua-versorgingsentrum in 'n nagmerrie verander toe sy op pad terug van die winkel in Aspelingstraat geval en ernstig beseer is.
Volgens Tuiniqua se bestuurder, Alani Voigt, het sy 'n pelvisfraktuur opgedoen.
"Die motor het uit Courtenaystraat se rigting in Kerkstraat opgejaag gekom. By die vierrigtingstop by die Aspeling-kruising het die bestuurder nie behoorlik tot stilstand gekom nie en regs in Aspeling ingedraai. Die inwoner was besig om die pad met haar driewielloopraam te kruis, maar toe die motor so vinnig om die draai kom, het sy haastig probeer padgee en in die proses haar balans verloor."
Daar was gou mense op die toneel om haar op te help.
"Ons wil graag baie dankie sê aan die lede van die publiek wat die tannie dadelik te hulp gesnel het. Ons waardeer dit dat mense soveel omgee," het Voigt gesê.
Volgens Theodore Dekker, bestuurder van Tuiniqua se verpleegkliniek, gaan die inwoner 'n lang herstelproses hê, want 'n operasie kan nie die fraktuur herstel nie. Dit gaan egter goed met haar.
"Ons wil graag net die publiek daarop wys dat wanneer enigiemand - jonk of bejaard - val, 'n mens eerder nie die persoon moet optel of beweeg nie, want dit kan 'n besering vererger. Veral as dit 'n rug- of nekbesering is, kan dit baie ernstige nagevolge hê.
"Dis beter om toe te sien dat die persoon gemaklik en veilig is en 'n ambulans te ontbied sodat 'n kundige 'n mediese assessering kan doen voordat die persoon beweeg word."
Kennisgewingborde
Voigt sê dit is jammer dat baie motoriste nie ag slaan op die kennisgewingborde wat waarsku dat bejaardes in daardie omgewing rondbeweeg nie.
"Die versorgingsentrum is net 'n blok of twee van Spar af geleë. Dis vir inwoners gerieflik om soontoe te stap en ons vra die publiek om asseblief versigtig te bestuur en op die uitkyk te wees vir voetgangers.
"Veral met spitstye jaag baie mense teen 'n mal spoed hier verby. Ons het nou besluit dat inwoners liewer nie ná 16:00 te voet moet gaan inkopies doen nie."
Tuiniqua hou vol om pleidooie tot die George-munisipaliteit te rig om voetoorgange in die betrokke strate aan te bring.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’