GEORGE NUUS - 'n Groep trotse Georgiete het die wêreldswemkampioen Minke Janse van Rensburg toegejuig en haar 'n heldeverwelkoming gegee by haar aankoms in George gister. Knallende ballonne, drukkies, dreunsang en spontane uitroepe van verwelkoming het bygedra tot die vrolike atmosfeer by die George-lughawe.
Die dapper, dertienjarige het trots haar medaljes (twee silwer- en twee bronsmedaljes) vertoon wat sy in die Downsindroom Junior Wêreld-swemkampioenskappe oor die afgelope week verower het.
Op die ouderdom van 13 is sy die jongste lid van die Suid-Afrikaanse swemspan en het wêreldrekords laat spat in Truro Kanada in die onderskeie afdelings. Alhoewel die lang vlugte terug van Kanada vermoeiend was het Minke tydens 'n oornagverblyf in Johannesburg haar slaap ingehaal.
Sy was dus op en wakker by aankoms in George en het spontaan drukkies uitgedeel en met 'n breë glimlag heeltyd geposeer vir foto’s saam met klasmaats van Carpe Diem skool.
Haar twee George-swemafrigters Joànne Fransman en Sybeth Hughes was ook daar om in haar oomblik van glorie te deel.
Daar was 'n paar snaakse oomblikke veral toe 'n ballon gebars het en almal vreeslik laat skrik het. Daarna was daar skielik 'n sarsie van knallende ballonne wat die skare van 130 laat uitbars het van die lag.
Na 'n innige omhelsing van haar moeder, Aletta Janse van Rensburg, was dit drukkies en breë glimlagte wat die Downsindroom wêreldkampioen-swemmer, Minke Janse Van Rensburg, by aankoms op die George-lughawe begroet het. Haar Carpe Diem-skoolmaats, opgewonde Georgiete en familie het die skool se vlag saam met klein Suid-Afrikaanse vlaggies sowel as slagspreuke geswaai en 'n spontane erewag vir haar gevorm. Foto’s: Pauline Lourens
Vir sommige Carpe Diem-leerders was dit 'n eerste besoek aan die lughawe en dus buitengewoon opwindend.
Lees vorige artikels hier:
- Minke does it again!
- Go-gett Minke lives up to expectations
- Minke is a champ
- Minke breek wêreldrekord vir swem
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'