GEORGE NUUS - Minke Janse van Rensburg (19), George se downsindroom-swemkampioen en nasionale gestremde sportvrou van die jaar, se sterretjie het blink geskitter by die Trisome Games wêreld-swemkampioenskap in Turkye.
Nie net het sy vyf medaljes gewen nie, sy het ook haar eie wêreldrekord in die 50 m-vryslag verbeter.
Die kampioenskap het Maandag, 25 Maart klaargemaak en die swemsensasie keer vanmiddag (27 Maart) terug na George wanneer haar vlug om 16:45 land.
Minke het goue medaljes verower in die 50 m-vryslag, die 100 m-vryslag en die 200 m-vryslag. In die 50 m- en 100 m-vlinderslag het sy silwermedaljes verower.
Nog 'n downsindroom-swemmer van George, Savanna Haselau (18) het Suid-Afrika trots gemaak tydens die geleentheid.
Die kompetisie het verlede Donderdag, 21 Maart, begin.
Minke het in die 100 m-vryslag haar titel as wêreldrekordhouer gestand gedoen. In die 200 m-vryslag het sy verras deur die wêreldrekordhouer Camino Martinez de la Riva te klop.
Haar verheugde pa, Hennie, het Dinsdag uit Antalya telefonies aan George Herald gesê haar posisie op die wêreldranglys vir downsindroom-swemmers sal verbeter. "Ek skat sy behoort nou tweede te wees."
Hennie en Minke se ma, Aletta, is saam met haar in Turkye. "Minke het besonder goed gedoen," het hy gesê.
Volgens hom kan die geleentheid gesien word as van die beste prestasies van enige downsindroom-swemmer. "Haar prestasies het ons verwagtinge oortref."
Hennie en Aletta is baie trots op Minke se prestasies en is dankbaar teenoor die Fish Eagle Aquatics-span en veral afrigter Franna Vorster van Garden Route Swim School vir die ekstra ure wat ingeruim is om haar vir die byeenkoms voor te berei.
Benewens Minke se prestasies is hulle ook opgewonde om te sien hoe sy tussen die 1 300 downsindroom-deelnemers gekuier het tydens rustye.
Hennie het gesê dit sal wonderlik wees indien spanmaats en enigiemand wat hul weg oopsien haar op Woensdag 27 Maart om 16:45 op die George-lughawe sal verwelkom.
"Dit is sulke erkenning wat haar motiveer om so hard te werk."
Savanna Haselau (18) tydens die geleentheid.
Savanna verbeter haar tye
Savanna, wat saam met Minke oefen, het op die byeenkoms haar tye drasties verbeter. Sy het ongelukkig nie vir enige van die finale gekwalifiseer nie.
Sy het drie jaar gelede begin om aan swem deel te neem om fiks te word. Die laaste jaar het sy haar tye verbeter en gekwalifiseer om aan die Trisome Spele in Oktober 2023 deel te neem.
Tydens die afgelope geleentheid het sy van haar persoonlike bestes verbeter.
Van die mense na aan haar het hul dank en waardering uitgespreek vir Hennie en vir Franna Vorster en sy afrigtingspan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’