GEORGE NUUS - Heinrich Muller se vasbytpoging om geld vir downsindroom-swemmers in te samel het vrugte afgewerp. Muller het op 4 November 100 km met sy fiets afgelê en 11 km geswem.
Hy het meer as R90 000 ingesamel en die geld sal George se downsindroom swemkampioen Minke Janse van Rensburg en 'n aflosspan in staat stel om vanjaar aan die Wêreldkampioenskappe in Turkye deel te neem.
Hy het op die dag sowat 1,6 km in elk van ses binnelandse mere - die Wolwedansdam by Groot-Brakrivier, die Tuinroetedam in George, Island Lake Wilderness, Swartvlei en Groenvlei in Sedgefield en die Knysnameer - geswem.
Muller het om 06:00 die oggend by die Wolwedansdam naby Groot-Brakrivier begin en laatmiddag by die seiljagklub in die Knysna Waterfront geëindig.
Volgens Muller is dit vir hom 'n groot vooreg om die bedrag aan die organisasie Downsindroom Suid-Afrika te kon oorhandig.
"Ek wil ook weereens baie dankie sê vir my familie en span helpers wat my op die dag ondersteun het om die uitdaging van 6 x mere (11km swem) en bergfiets ry tussen die mere met 'n totale afstand van 100km vanaf Groot-Brak tot in Knysna.
"Ek gee alle eer aan my Skepper wat my die krag en deursettingsvermoë gee om 'n verskil in ander se lewens te maak," het hy gesê.
"Sterkte aan Minke en haar span wat ek weet ons gaan trots maak by die 2024 Wêreldswemkampioenskappe in Turkye."
Minke se pa, Hennie, het Dinsdag 9 Januarie gesê hulle is baie dankbaar vir Muller se poging. "Dit beteken dat minstens vyf swemmers kan saamgaan."
Die byeenkoms vind van 19 tot 25 Maart plaas. Dis 'n groot geleentheid en swemmers van regoor die wêreld gaan deelneem. "Ons sien baie uit daarna," het Hennie gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’