GEORGE NUUS - Mediclinic George se bestuurder, Kassie Karstens, het by navraag bevestig dat Mediclinic George reeds verskeie navrae van belangstellendes ontvang het oor die moontlike verkoop of gebruik van die bestaande hospitaalgeboue.
Karstens het gesê 'n formele proses sal in werking gestel word ten opsigte van die verkoop van die huidige fasiliteite. "Dit sal geïmplementeer word sodra ons definitiewe datums het om die nuwe fasiliteit te betrek."
Mediclinic het onlangs in 'n verklaring gesê dat die ontwikkeling van die nuwe hospitaal op eiendom wat van Mount View Resort in Yorkstraat aangekoop is, volgende jaar 'n aanvang sal neem.
"Ons beoog om alle verwante mediese dienste na die nuwe fasiliteit te skuif, sodat al die dienste by 'n sentrale punt beskikbaar is.
"Dit sal dokters en ander dienste soos patologie, radiologie, fisioterapie, ens. insluit. Ons poog om alle partye op hoogte te hou namate planne en prosesse vorder," het Karstens gesê.
Die nuwe R1 miljard hospitaal sal na verwagting teen Desember 2023 voltooi wees.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'