GEORGE NUUS - 'n Ma wat elf jaar gelede haar dogter aan die dood moes afstaan is opnuut in rou gedompel nadat haar dogter se graf in die hoofbegraafplaas langs Yorkstraat deur 'n voertuig beskadig is.
"My hart is in stukke geskeur, nie eens met of tydens my dogter Monique se dood het ek so baie gehuil nie. Om my kind se graf in so 'n toestand te sien breek enige ma se hart in stukke," het Maggie Sambo verlede Sondag 5 Desember gesê.
Monique Sambo (18) het net gematrikuleer aan Hoërskool Outeniqua toe sy in Februarie 2010 gesterf het. Sy sou vanjaar haar 30ste verjaarsdag gevier het. Die oorsaak van haar dood is onbekend.
"Ek het haar in haar bed, dood aangetref. Drie jaar later is ek meegedeel dat hulle nie die oorsaak gevind het nie en ek moes maar probeer vrede maak dat ons nooit gaan weet hoekom sy gesterf het nie," het Maggie Sambo gesê.
Saterdag 4 Desember het Sambo haar dogter se graf gaan besoek om die potpourri aan te vul en tot haar skok gesien dat die graf verskriklik beskadig is.
"Die ervaring het al my ou wonde en ervarings met my dogter na vore gebring. Ek het van voor af al die trauma herleef. Ek is seker niemand wil so iets herleef nie," het sy gesê. "'n Mens verwag ten minste dat indien daar 'n ongeluk plaasvind, iemand dit iewers by die owerhede sal rapporteer."
Oortreding
Direkteur van gemeenskapsdienste, Allen Paulse, het by navraag gesê die voorval is onder die munisipaliteit se aandag gebring.
"Die begrafnisondernemer verantwoordelik vir die skending van die oorledene se graf het 'n privaat busdiens gehuur om die begrafnisgangers na en van die graf te vervoer. Die reël is dat alle busse slegs die hoofpad mag gebruik, waar hulle moet stop, en die begrafnisgangers moet na die graf van die oorledene stap. In hierdie geval het die gehuurde bus in die nou straat gery, wat op sigself 'n oortreding is. Die bus kon nie 'n draai maak nie en die grafstene is onvermydelik gevandaliseer."
Die maatskappy by wie die bus gehuur is, is aan die departement van gemeenskapsdienste bekend.
Paulse het bevestig dat 'n kennisgewing, ooreenkomstig met die uiteensetting van verbode gedrag soos vervat in die munisipale bywette, aan die betrokke begrafnisondernemer en busdiens uitgereik word vir die regmaak van die graf binne 30 dae, as 'n regstellende aksie.
Monique Sambo met haar matriekafskeid in 2009, enkele maande voor haar dood.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'