Update
GEORGE NUUS - Die ma en haar kêrel, Chantelle Domingo (32) en Ray Morgan Cronjé (32), wat van die moord op Domingo se negejarige seun, Juwayne, aangekla word, het Vrydagoggend, 23 Junie, vlugtig in die George-landdroshof verskyn vir Domingo se borgtogaansoek om voort te gaan.
Die staat het aangedui dat hy Domingo se borgtogaansoek gaan teenstaan omdat sy, soos Cronjé, van moord met 'n gemene doel, 'n skedule ses oortreding, beskuldig word.
Domingo se verklaring is tydens die aanvang van die borgtogaansoek op Vrydag 9 Junie, deur haar regsverteenwoordiger van Legal Aid SA op rekord ingelees. In die verklaring sê Domingo sy is werkloos. Sy het ook twee ander minderjarige kinders, 'n dogter (7) en 'n seun (5), wat albei tans by hulle ouma bly.
Volgens haar het sy geen vorige veroordelings of hangende sake teen haar nie en het aangedui dat sy onskuldig gaan pleit op die aanklagte teen haar. Sy het beloof om gedurende die verhoor aan al die hof se versoeke te voldoen.
Cronjé het gekies om nie vir borgtog aansoek te doen nie. Die saak is tot verlede Vrydag uitgestel waarna dit weer na gister uitgestel is weens 'n kragonderbreking in die middedorp. Teen druktyd was daar nog geen besonderhede rondom die borgtogaansoek bekend nie.
Ná 'n plasing hieroor op George Herald se Facebook-blad, het dit duidelik geword dat inwoners en lesers oor die algemeen, baie sterk daaroor voel dat Domingo se borgtog nie toegestaan moet word nie.
Die twee is op Saterdag 13 Mei in hegtenis geneem ná Juwayne glo met 'n sambok en 'n staalpyp doodgeslaan is. Hy is na bewering ook verskeie kere hard neergegooi.
Die polisie het die twee in hegtenis geneem nadat hulle na die toneel in Jakarandastraat in Pacaltsdorp uitgeroep is. Juwayne was reeds in 'n ambulans toe die polisie op die toneel aankom. Die kind het veelvuldige kneusplekke oor sy lyf, kop en bene gehad.
Paramedici het die seun op die toneel dood verklaar. Die verdagtes is later op aanklag van moord in hegtenis geneem.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’