Gallery Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Terwyl dit gons oor die verwydering van die gedenksteen van wyle Lucas Maree by Victoriabaai, word vrae gevra oor wat met die oorblywende kissies en gedenkstene gaan gebeur.
'n Egpaar wat daar woon, wil hê dat 'n ander soortgelyke gedenksteen vir die gewilde sanger weer opgerig word, maar op 'n ander plek waar dit nie die natuur skend nie.
André en Elizabeth Groenewald, was nog altyd gefassineer deur Maree se liedjie, Victoriabaai en is nie gelukkig met die onlangse verwydering van die gedenksteen uit Victoriabaai nie.
Maree se gedenksteen is Saterdagmiddag kort na 16:00 verwyder. Dit was nadat die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) gehoor het dat inwoners ongelukkig is oor die gedenkstene en kissies. Hulle het toe René Janse van Vuuren, Maree se suster, gekontak en wou hoor of hulle dit kan kry om te skuif na die Afrikaanse liedjietuin by die Voortrekkermonument in Pretoria. Janse van Vuuren het ingestem.
Fotogalery: Lucas Maree se gedenksteen skuif
Gerda Stols, 'n inwoner van George, is deur die FAK genader. Nico Coetsee het Saterdagmiddag die gedenksteen versigtig losgemaak. Die gedenksteen is Dinsdag na Pretoria geneem en dit sal op 18 Februarie in Pretoria "heronthul" word. Maree is op 18 Februarie 2011 aan nierversaking oorlede.
Kyk video's hieronder:
Die Groenewald-egpaar het Maandag gesê hulle is sedert 2017 inwoners van Victoriabaai. Nadat die gedenksteen Saterdag verwyder is, het hulle Sondag gaan kyk. "Dis hartverskeurend," het André vertel. Volgens hom is daar 'n groot verskil tussen Maree se gedenksteen en die ander gedenkstene en kissies.
Groenewald wou weet wie is die "belanghebbendes" en inwoners wat in Desember besluit het dat pogings aangewend moet word om die gedenkstene en kissies te skuif.
"Die besluit het indirek daartoe gelei dat Lucas Maree se gedenksteen verwyder is."
Hy het ook vrae gehad oor die publieke deel by die punt waar die kissies geplaas is.
"Sou die kissies en as verwyder word, moet dit in samewerking met die owerhede en die familie en geliefdes van die gestorwenes plaasvind."
Elizabeth het gesê uit liefde en bewondering vir 'n stukkie Skepping het 'n gevierde kunstenaar en liedjieskrywer, Victoriabaai laat lewe in die lirieke wat hy geskryf en getoonset het. Die gedenksteen is 'n voorreg vir Victoriabaai en die waarde daarvan is onberekenbaar. Geld kan dit nie koop nie.
'n Ander inwoner wat ongelukkig is oor die gedenkstene en kissies, het gesê dit gaan nie oor Lucas Maree se gedenksteen nie. "Ons het nie gevra dat sy gedenksteen verwyder moet word nie. Dit is sy familie wat gevra het dat dit moet gebeur. Vir ons gaan dit oor die onwettige plasing van gedenkstene en kissies daar."
Die inwoner het benadruk dat die inwoners wat ongelukkig is, nie van die gedenkstene en kissies verwyder het nie. "Ons wag nou vir die owerhede en wil dinge op die regte manier doen."
A plaque in remembrance of the late Afrikaans singer Lucas Maree at Victoria Bay was removed on Saturday afternoon, after the FAK received permission from his family to take it to Pretoria. In December some of Vic Bay's residents agreed that a way must be found to remove the plaques and urns with ashes that have been put at the southwestern end of the bay.
A resident said on Tuesday that the issue is about all the illegal plaques and ashes. He emphasised that the residents have not taken matters into their own hands, but are awaiting the input of the authorities.
Lees vorige artikels:
- Lucas Maree se gedenksteen verwyder
- Lucas Maree se steen skuif Pretoria toe
- Wye reaksie oor planne by Vicbaai
- Vicbaai se kissies moet waai
- Vrae oor as in kissies by Victoriabaai
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'