GEORGE NUUS - Die gedenksteen van Lucas Maree by Victoriabaai gaan na die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Afrikaanse liedjietuin by die Voortrekkermonument in Pretoria skuif.
Dit is kort gelede deur René Janse van Vuuren, wyle Maree se suster, bevestig.
Wyd uiteenlopende reaksie is sedert verlede week ontvang nadat die George Herald berig het oor moontlike planne om kissies en gedenkstene van afgestorwenes by Victoriabaai te verwyder.
Inwoners het in Desember eenparig besluit dat gepoog moet word om die kissies en gedenstene te verwyder.
Die FAK het vroeg vanmiddag, 23 Januarie, bekend gemaak dat die gedenksteen ‘n nuwe tuiste in die liedjietuin sal kry.
Van Vuuren het aan die George Herald gesê die FAK het haar gekontak en wou weet of sy bereid sou wees om die steen aan hulle te skenk.
“Ek het ingestem. Ek is nie kwaad vir iemand nie en is net dankbaar vir die geleentheid.”
Sy het vroeër vandeesweek op die George Herald se Facebookblad geskryf:
“Ek het die steen van Lucas Maree Junie 2019 opgesit, nie met die idee dat dit ‘n grafsteen vir my oorlede broer Lucas en my ouers moet wees nie maar bloot omdat die woorde so gepas is om die mooi van Victoriabaai te beskryf. My boeta het wel die liedjie Victoriabaai vir ons ma geskryf toe sy oorlede is in 1981, en is haar as, my pa se as en ook my boeta se as in die see gestrooi daar. My gevoel was dat baie Afrikaanse toeriste die punt besoek wanneer hulle na die KKNK toe gaan of oppad is Hartenbos toe. My broer se liedjies is vereer in die FAK sangbundel en sien baie Afrikaners hom as ‘n legende. Ek het wel met die ATKV in verbinding getree om te onderhandel dat hulle my moontlik sal help om die steen te verskuif. Ek vra om verskoning vir enige ongerief wat my aksie veroorsaak het. Rene Janse van Vuuren. Neem asb kennis dat Ilse, my broer se vrou, en sy drie dogters geen deel in my aksie gehad het nie. Rene Janse van Vuuren sussie van Lucas Maree.”
Verwante artikel: Wye reaksie oor planne by Vicbaai
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'