Update
GEORGE NUUS - Die kissies en gedenkstene vir afgestorwenes aan die suidwestelike punt by Victoriabaai moet verwyder word, vra inwoners van die gewilde oord.
Tydens 'n vergadering in Desember, is eenparig besluit dat daar gepoog moet word om dit te verwyder. 'n Kennisgewing gaan binnekort aangebring word waarin mense ontmoedig word om die kissies met as en die gedenkstene daar te plaas.
Die George Herald het verlede jaar in Oktober berig dat die teenwoordigheid van die kissies en gedenkstene gemengde reaksie ontlok het. Dit was nadat 'n inwoner van die Suid-Kaap, Carel Marx, na die kwessie op Facebook verwys het. 'n Gedenksteen vir die bekende Afrikaanse sanger Lucas Maree is onder meer daar aangebring.
Die George-munisipaliteit het gesê die kissies en plaatjies is eintlik onwettig, maar die grond behoort aan die Garden Route-distriksmunisipaliteit. Daar is wel op die George-munisipaliteit se kennisgewingbord by Victoriabaai 'n prentjie wat die kissies verbied.
Die distriksmunisipaliteit se gesondheidsafdeling het gesê ingevolge Regulasie 363 van 2013 is daar geen spesifieke regulasies wat die strooi van as uit 'n gesondheidsoogpunt verbied nie. 'n B-munisipaliteit, soos George, het die reg om sekere verordeninge in te stel om so iets te verbied of te reguleer.
'n Inwoner het Dinsdag aan die George Herald gesê hulle is nie onsensitief teenoor families nie, maar op die oomblik is dit buite beheer. Daar het ook voorvalle van vandalisme voorgekom.
Die inwoners glo die algemene publiek se gevoel is dat dit 'n natuurlike gebied moet wees. Hy het benadruk dat hulle steeds ten gunste daarvan is dat mense hul geliefdes se as daar in die see kan strooi.
Enige poging om die kissies en gedenkstene te verwyder sal in samewerking met die munisipaliteit geskied.
Lees 'n vorige artikel: Vrae oor as in kissies by Victoriabaai
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'