LANDBOU NUUS - Lancewood het onlangs ’n groot aantal oorplaatjies geborg wat die staatsveearts se kantoor benodig om diere wat teen bek-en-klouseer ingeënt is, te identifiseer.
Dit volg nadat Lancewood goedgunstiglik gereageer het op oproepe aan maatskappye vir donasies van die broodnodige oorplaatjies deur Bossie Terblanche, voorsitter van die Outeniqua-landbouvereniging.
“Ons probeer om die staatsveearts op enige moontlike manier by te staan in die stryd teen die verspreiding van die siekte en die plaatjies is nie altyd beskikbaar nie. Ons is baie dankbaar teenoor Lancewood vir hierdie gebaar.”
Terblanche het ook die inisiatief geneem om vrywilligers te werf wat die kantoor kan bystaan, hetsy dit is om fone te beman of bystand met diere-identifikasie, inentings en die neem van bloedmonsters.
Administratiewe goedkeuring is nodig voordat vrywilligers betrek kan word en hy het formeel ’n aanbod van hulp aan die kantoor voorgelê. “Agri Wes-Kaap volg die aangeleentheid ook op met die Wes-Kaapse Departement van Landbou. As hulle mense nodig het, moet hulle net sê. Ons is gereed,” het hy gesê.
Die vrywilligers sluit in afgetrede boere wat hulle uit ander dele van die land in die gebied gevestig het, landboustudente van die Nelson Mandela Universiteit se George-kampus, voormalige landboustudente wat nou in George en Sedgefield woon, en selfs plaaslike predikante.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’