GEORGE NUUS - 'n Stap vir diabetes word aangebied op nasionale diabetesdag, Saterdag 14 November, om bewusmaking oor die siekte te skep en om kinders met diabetes te help.
Daar word drie geleenthede aangebied: Een roete vir mense in die George-omgewing wat wegspring by Leentjiesklip in Wilderness en strandlangs loop, en een vir mense in die Mosselbaai-omgewing wat begin by Piza e Vino in Hartenbos. Mense kan ook virtueel saamstap.
Stappers kan vir al drie aanlyn inskryf. Inskrywings sluit môre, Vrydag 6 November. Die inskrywingsfooi is R100.
Volgens die organiseerder, Hester Stander, sal die geld wat ingesamel word, aangewend word om Freestyle Libre Sensors aan 'n 13-jarige seun te kan verskaf. Hy was 17 maande oud toe hy gediagnoseer is.
"Die sensors verskaf 24 uur lesings van jou bloedsuikervlakke en help jou om beter beheer daaroor uit te oefen. Die seun se ma is 'n enkelouer en kan dit nie bekostig nie. Die kostes is baie hoog," sê Stander.
Stander se 11-jarige seun, Hanro, is in 2018 met tipe 1 diabetes gediagnoseer. Hy ontvang behandeling by dr. Jacques van Staden van die Diabetiese Sentrum vir Uitnemendheid in George. Sy sê die staptogte is vir haar ook 'n manier om iets terug te gee aan dr. Van Staden en sy sentrum vir alles wat hulle al vir Hanro beteken het.
Deelnemers word gevra om iets blou aan te trek. Die staptogte begin om 08:00.
Bel Stander by 071 147 2648 vir meer inligting.
Foto: Maxpixel
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'