GEORGE NUUS - 'n Kosverspreidingsprojek onder die vaandel van die nie-winsgewende organisasie Love George het gedurende grendeltyd reeds sowat R270 000 se kos aan behoeftige gesinne gegee.
Die projek, gedoop Joseph's Storehouse, is begin weens die toenemende nood in George in 'n ekonomie wat weens inperking feitlik tot stilstand gekom het met baie mense wat oornag geen inkomste ontvang nie.
Joseph's Storehouse word vanaf die Shofar-kerk se perseel bestuur. Meer as 600 kospakkies is reeds in die eerste ses weke van inperking uitgedeel.
Volgens 'n vrywilliger van die projek, pastoor Jannie Horne, het hulle reeds twee weke voordat die president inperking afgekondig het, stelsels in plek gesit. "Ons het vir onsself gesê, 'wat as'." Hy sê hulle is dankbaar vir groot ondersteuners soos die Lions en Vryburgers.
"Die Spar Wellingtonstraat gee ook vir ons die kos vir die pakkies teen 'n baie spesiale prys. Ons uitdaging is dat die nood te groot is."
'n Totaal van 105 kerkleiers steun die projek. "Ons wil alle predikante, skole en klein organisasies wat op een of ander manier in die gemeenskap betrokke is, nooi om by Joseph's Storehouse te registreer. Hulle weet waar die behoefte is omdat hulle in die gemeenskap rondbeweeg. So kan ons verseker dat die kos by die regte mense uitkom," sê Horne.
Hy het kerke bedank wat op 'n gereelde basis skenkings maak.
Charlene Snyman hou boek van alles wat inkom en uitgaan.
Een van die skole wat geregistreer het vir hulp, is Parkdene Sekondêr. Die skoolhoof, Derick Petersen, sê by die skool kom hulle gou agter wanneer 'n leerder tuis nood ondervind.
"Ons ervaar dit nou weer tydens grendeltyd. Dit is nie net meer die behoeftige leerders wat vir etes by die skool in 'n ry kom staan nie, maar ook dié wie se ouers skielik weens die inperking nie meer 'n inkomste het nie," sê hy.
By sy skool het onderwysers 'n totaal van R10 000 uit hul salarisse geskenk en 'n oudleerder het kospakkies ter waarde van R40 000 geskenk. Herman Pienaar, uitvoerende hoof van Love George, sê die projek het baie mense se oë laat oopgaan vir die nood in gemeenskappe waar hulle gewoonlik nie kom nie.
'n Tjek van R20 000 is van die Vryburgers ontvang. Voorbeelde van items wat mense kan skenk wat in die kospakkies ingesluit word, word by Joseph's Storehouse uitgestal.
Mense kan help deur kontantskenkings of kosvoorrade by Heatherpark Spar of Checkers by Paddagat te laat. Kos kan ook by Joseph's Storehouse afgelewer word.
"Elke rand help. Ons wil die mense wat dit self nie breed het nie, maar tog skenk, bedank vir hulle ondersteuning. Ons boeke is oop vir enigeen. Ons sal verslag doen van elke sent en skenking wat ons ontvang.
"Ons volgende visie is om steun aan die sopkombuise te verleen. Hulle het nie genoeg voorraad om almal te help wat vir kos aanmeld nie," sê Horne. Johann Verster, ook 'n vrywilliger van Joseph's Storehouse, sê die pakkies bevat ook vars produkte soos aartappels en uie.
Hulle probeer om 'n gebalanseerde pakkie saam te stel wat 'n week se etes kan voorsien vir 'n gesin van vier. "Die projek sal nie gestaak word wanneer inperking verby is nie. Hierdie is 'n visie wat ons eintlik al lankal koester en dit begin nou 'n werklikheid word."
Kontak Herman Pienaar by 082 829 6428 vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'