Update
GEORGE NUUS - Die ma en haar kêrel van Pacaltsdorp wat beskuldig word van Juwayne Domingo (9) se moord, het gister, 10 Augustus weer in die George-landdroshof verskyn.
Die saak is op 3 Augustus uitgestel om voort te gaan met Chantelle Domingo (32), Juwayne se ma, se borgtogaansoek.
Haar kêrel en medebeskuldigde, Ray Morgan Cronjé (32), het aanvanklik nie aansoek gedoen vir borgtog nie, maar het in tussen sy besluit verander en die saak is uitgestel tot 31 Augustus wanneer borgtogaansoekke vir albei beskuldigdes sal voortgaan.
Die staat staan die borgtogaansoeke teen, omdat die paartjie van moord met 'n gemene doel, 'n skedule ses oortreding, beskuldig word.
Albei word deur Legal Aid SA verteenwoordig.
Die Pacaltsdorp-gemeenskap het ook 'n petisie teen Domingo se borgtog ingedien.
Die twee beskuldigdes is op Saterdag 13 Mei in hegtenis geneem ná Juwayne glo met 'n sambok doodgeslaan is. Hy is na bewering ook verskeie kere hard neergegooi.
Die polisie het die twee in hegtenis geneem nadat hulle na die toneel in Jakarandastraat in Pacaltsdorp uitgeroep is. Juwayne was reeds in 'n ambulans toe die polisie op die toneel aankom. Die kind het veelvuldige kneusplekke oor sy lyf, kop en bene gehad.
Paramedici het die seun op die toneel dood verklaar. Die beskuldigdes is later op aanklag van moord in hegtenis geneem.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’