GEORGE NUUS - Op Maandag 25 November is die begin van 16 dae van aktivisme teen geslagsgebaseerde geweld in Syferfontein, ’n informele nedersetting in Pacaltsdorp, herdenk.
‘n Byeenkoms om bewuswording rondom dié swaar onderwerp te skep is gehou. God Cares, ’n nie-regeringsorganisasie wat meeste van hulle onbaatsugtige werk in Syferfontein verrig, het hierdie geleentheid aangebied.
Die dag is goed deur die inwoners van Syferfontein ondersteun. Die verrigtinge het begin met ’n verwelkoming deur Gretchen Jamneck en Jeline Jumat en ’n gebed deur Cynthia Papah.
Daarna is die gemeenskap toegespreek deur ‘n bekende gesig in George, Jonathan Gelderbloem, direkteur van Youth For Christ, hoof van Kidstop en voorsitter van Plots (People living on the Streets).
Jonathan se boodskap was baie treffend en het nie net gemaan teen geslagsgeweld nie, maar het ook die gemeenskap gemotiveer om vir mekaar om te gee, na mekaar om te sien en mekaar in nood by te staan.
Vrywilligers deel boereworsrolle uit. Foto's: deur Anine Koch
Angeline Lieman het haar getuienis gelewer om hoop te gee vir diegene wat onder geslagsgeweld deurloop.
Die groep dames van God Cares het daarna ’n mooi lied gesing gevolg deur ‘n kersaansteek-seremonie.
’n Kers is aangesteek vir elke provinsie in ons land asook Suid-Afrika as 'n geheel, ter herdenking van diegene wat geliefdes verloor het as gevolg van geslagsgeweld, en diegene wat steeds daardeur vasgevang word.
Die dag is op ‘n ligter noot afgesluit met heerlike boereworsrolle vir almal.
Syferfontein-inwoners woon die byeenkoms by.
Verskeie vrywilligers het die funksie 'n groot sukses gemaak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’