GEORGE NUUS - 'n Voormalige pastoor en ouderling (52) van die Elim Sewendedag-Adventiste in Pacaltsdorp het verlede Donderdag 26 April in die Thembalethu-streekhof skuldig gepleit op aanklag van seksuele aanranding van 'n jong dogter in 2016. Sy was 10 jaar oud ten tye van die voorval.
Die saak is tot 11 Junie vir vonnisoplegging uitgestel.
Die beskuldigde, wie se naam nie genoem mag word om die identiteit van die slagoffer te beskerm, het die slagoffer in die begin van 2016 in sy huis in die middedorp gemolesteer.
Hy het die voorval in November daardie jaar aan 'n kollega, 'n pastoor by dieselfde kerk, beken en daarna aan die kind se ma. Die slagoffer se ma het toe die voorval by die polisie aangemeld.
Dit het sedertdien ook aan die lig gekom dat nog 'n klag van molestering teen die verdagte by die gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe-eenheid (GKS) ingedien is.
Die slagoffer in die saak (tans 19 jaar oud) beweer sy is vyf jaar gelede ook deur hom betas tydens 'n besoek aan sy huis. Besonderhede rondom hierdie klagte kon nie teen druktyd bevestig word nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'