Mariaan Mans, die streekorganiseerder van Solidariteit Helpende Hand in die Suid-Kaap en die organisasie se kliëntediensbeampte, Adéle Wright het as deel van Solidariteit se nasionale navorsingsprojek hulself as bedelaars vermom en in Augustus en Oktober die Suid-Kaapse strate ingevaar en gebedel.
Binne drie ure in Plettenbergbaai op 'n Saterdagoggend het die twee vroue 'n ongelooflike R1 257 ingesamel. In George het hulle egter 'n bloutjie geloop en kon hulle op 'n weeksmiddag slegs R90 bymekaarmaak na twee ure se mooipraat en soebat. In Mosselbaai, waar hulle soos in Plett in die oggend 'n draai gaan maak het, het hulle sommer lag-lag binne 'n driekwart-uur R366 ingesamel, maar is toe by die verkeerslig waar hulle gebedel het, deur 'n verkeersbeampte gevra om die pad te vat.
So, uit die navorsing is dit duidelik. Georgiete is die suinigste!
Nee, sê Mariaan Mans, dit beteken slegs dat 'n mens eerder in die oggend as in die middag moet bedel. "Miskien sal die publiek die twee dames wat by die verkeerslig op die hoek van Hibernia- en Markstraat gestaan het onthou! In George het ons in die middag gebedel en gevind mense is in die middag meer geïrriteerd en ongeduldig. Die dag se drukte het reeds ingeskop en mense is dan moeg en krapperig."
Sy sê gesoute bedelaars volg sekere taktieke om mens meer vrygewig te maak. "Jy moet kyk en kyk en kyk en ook so af en toe oor jou maag streel. Party mense, veral vroue in luukse motors ry sommer oor die rooi lig om weg te kom of begin verwoed met hul radio se knoppies te vroetel om net van jou starende blik te ontsnap."
Die nasionale gemiddelde wat 'n bedelaar volgens die navorsing daagliks maak is R172 - heelwat meer as 'n arbeider se minimum loon. Sowat 78% sou egter glo liewer wou werk vir hul daaglikse brood. Mans sê dis nie maklik vir dié mense om werk te kry nie.
"Hulle lyk onversorgd en het heel dikwels glad nie tande nie. Hulle ook nie identiteitsdokumente nie, geen opleiding nie en jy kan geen voetspoor van hulle naspeur nie."
Mans en Wright het eerstehands ervaar met hoeveel minagting bedelaars behandel word. "By die verkeersligte waar ons gebedel het, was mense ons oor die algemeen goedgesind, maar probeer nou iets in 'n winkel koop! By een supermark in die middedorp in George is ek toegang geweier en by die klerewinkel langsaan het die personeel my met valk-oë dopgehou. Ek kon myself nie help nie - net om hulle te terg het ek al die juwele betas."
Sy sê hoewel die navorsing onder wit bedelaars gedoen is om die armblanke-vraagstuk te verken, was dit die swart bedelaars wat meer geneë was om die twee nuwe 'inkommer-bedelaars' by te staan. "Ons het gesê ons is van Gauteng en hulle was bereid om vir ons slaapplek aan te bied. Ons het oor die algemeen gevind dat armoede 'n groot gelykmaker is."
"Dit wil voorkom asof hierdie mense bloot nie oor goeie naskoolse opleiding beskik nie en dat dit tot hulle situasie bydra," sê dr. Danie Brink, die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. "Nagenoeg 60% van die bedelaars het nie matriek geslaag nie. Daar is net 'n klein groepie wat genoem het dat hulle 'n diploma of sertifikaat het."
Hy sê die navorsing toon dat die inkomste uit bedelary wisselvallig is en bedelaars enigiets van R50 tot R500 per dag verdien. "Hiermee koop hulle meestal kos en basiese behoeftes. 'n Klein gedeelte word aan verblyf spandeer."
Van die bedelaars wat graag sou wou werk, het 19% nog nooit vantevore gewerk het nie.
Solidariteit Helpende Hand het onlangs die WerkNet-internetplatform op die been gebring as teenvoeter vir wit Afrikaner werkloosheid. Dié diens is gratis en bied werksoekers toegang tot duisende werksgeleenthede wat regoor die land geadverteer word. Werksoekers kan ook hul CV's op dié internetplatform plaas.

Foto: Sharyn Hodges.