LANDBOU NUUS - Die droogte in George en omliggende landbougebiede het die streek se melk- en groente-produsente op hul knieë. Waar George gemiddeld sowat 750mm reën per jaar ontvang, staan die totaal op net 500 mm, met 'n skamele 100 mm sedert Julie.
Vir die winter - tradisioneel die seisoen waarin die damme moet vol loop - was daar eenvoudig nie genoeg reën nie.
"Ons is geknel," sê Bossie Terblanche, voorsitter van die Outeniqualand-boerevereniging. "Ons het maar 75 mm oor vyf maande gehad. Dis net nie genoeg om die damme te dra nie, en nou gaan ons die somer in sonder water."
Die droogte het die hele landbousektor in die streek - insluitend Terblanche se melk- en groenteplaas, Kleinplaas in Outeniqualand, tussen Groot-Brakrivier en Jonkersberg, in 'n krisis gedompel. Die Tuinroete se ondergrondse water is brak, en boere moet staatmaak op opgaardamme en beperkte rivierwater. Maar die damme is leeg.
"Ek is op 25% van my normale besproeiing. Ek moes 75% sny," sê Terblanche. "Party plase hou net genoeg water oor vir die vee se suipings."
Vir melkboere is die situasie veral uitmergelend. Weiding verdor sonder besproeiing, en die bale en kuilvoer wat gedurende winter moes inkom, is minder as 'n derde van 'n normale jaar.
Hierdie jong mielieplante se blare is veronderstel om groot en wyd te wees. Die droogte het 'n duidelike uitwerking op die mielieproduksie. Foto verskaf
"Ons het geen reserwes vir kuilvoer nie. Alles moet ingekoop word, en dis astro-nomies duur," verduidelik hy. Tog sal die melkprys nie verhoog nie. "Ons produseer goeie melk, maar teen 'n geweldige koste."
Selfs mielie-aanplantings, wat uitsluitlik vir beeste in hierdie streek bedoel is, stort in duie. Plase wat wel geplant het, kyk hoe hul mielies in die hitte opdroog. "Die mielies lyk soos pynappeltjies - die blare draai toe," sê Terblanche. Met damme wat op 30% of minder staan, waag baie boere dit nie om mieliesaad te koop nie. "Dis 'n gamble," sê hy. "Jy koop eerder voer as saad."
Groenteproduksie is eweneens onder druk.
Die George-omgewing produseer tot 60% van die land se brokkoli en blomkool. Boere wat gereeld produseer moet egter nou vir ander met meer water vra om te verskaf. Hierdie skuif het 'n impak op individuele boere, nie noodwendig op die mark nie.
"'n Mens moet maar kyk wat jy wel kan besproei. Sekere blok-ke word glad nie geplant nie - daar is net nie water nie," sê Terblanche.
En tog bly die boere hoopvol. "Met die laaste twee weke se 19 mm reën voel die gemoed beter," sê hy. "Maar 'n paar millimeters hier en daar gaan nie damme vol maak nie.
"Die grond is te droog, dit sluk alles op."
Melkbeeste se voer word aangekoop aangesien die boere nie vanjaar genoegsaam voer kon produseer nie.
Verskeie plaasdamme in die omgewing is leër as ooit. Hierdie is ’n dam van Van Greunen-boerdery. Foto verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’