SAKENUUS - Die George-sakekamer waarsku in 'n verklaring dat die nuwe Wetsontwerp op Sakelisensiëring informele handelaars, 'n kritieke deel van die plaaslike ekonomie, waarskynlik die swaarste sal tref.
Die wetsontwerp is onlangs deur die departement van kleinsakeontwikkeling gepubliseer. Die doel daarvan is om besigheidslisensiëring af te dwing en ook eenvormigheid in prosedures en minimum vereistes vir lisensiëring daar te stel. Kommer oor die nuwe regulasies is vanoor 'n wye front in die nasionale media uitgespreek.
Johannes Jumat, voorsitter van die George-sakekamer, sê enige beleid wat die bestaan van informele handelaars bemoeilik, kan 'n direkte negatiewe uitwerking op plaaslike ekonomie en voedselsekerheid hê.
"Informele handelaars is 'n belangrike lewensaar in ons gemeenskappe. Hulle beskik dikwels nie oor toegang tot administratiewe ondersteuning, digitale hulpmiddels, formele dokumentasie of gevestigde sakepersele nie, wat 'n nuwe lisensiëringsproses vir hulle meer uitdagend kan maak. Meer administrasie gaan entrepreneurs terughou, nie vorentoe help nie."
Hy is ook bekommerd oor die diskresie wat die wetsontwerp aan die departement van kleinsakeontwikkeling gee om te besluit watter ondernemings 'n lisensie benodig en watter geografiese gebiede as beperkte handelsones verklaar kan word.
Druk op munisipaliteite
Die voorsitter van die Afrikaanse Handels-instituut (Ahi) Wes-Kaap, dr. Willie Cilliers, sê die meeste van die nakomingsvereistes wat deur die wetsontwerp beoog word, bestaan reeds in huidige raamwerke soos sonering, boubeheer, omgewings- en gesondheidswette, en beroepsgesondheids- en veiligheidsregulasies.
" Nog 'n laag lisensiëring sal die vorming van nuwe besighede vertraag en nakomingskoste verhoog. Munisipaliteite sal aan die voorpunt van implementering wees. Hulle sal moet lisensies uitreik, inspeksies uitvoer en nakoming afdwing.
"Baie staar reeds ernstige kapasiteits- en hulpbronbeperkings in die gesig. Sonder aansienlike belegging in personeelopleiding, digitale stelsels en institusionele onder-steuning, sal die wetsontwerp plaaslike regerings verder onder druk plaas en dit kan lei tot inkonsekwente implementering regoor die land."
Voorkeurlisensies
Richard Shumi, voorsitter van die Thembalethu-sakekamer, sê die wetsontwerp se bedoeling is goed, maar hy is bekommerd oor sekere aspekte. Hy stem onder meer nie saam met afdeling 15 (1) van die wetsontwerp nie. Dit handel oor voorkeurlisensiëring vir kleinbesighede.
"Die doel is om kleinsake te ondersteun - veral besighede wat deur voorheen benadeelde groepe besit word - deur middel van voorkeurlisensiëring. Maar dit sluit ander groepe uit wat ook gladde lisensiëringsprosesse verlang. Ek glo die woord 'voorkeur' hoort nie in 'n wetsontwerp in vandag se Suid-Afrika nie."
Hy sê verder daar is baie ruimte vir korrupsie en diskriminasie in die afdeling oor inspekteurs se magte (afdeling 19 (1)). "Dis onaanvaarbaar in sy huidige formaat en behoort heroorweeg te word en daar behoort konsultasie met 'n breër sakegemeenskap plaas te vind."
Ann Bernstein, uitvoerende hoof van die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming (CDE), het in 'n verklaring gevra dat die wetsontwerp teruggetrek word.
"Dit vergroot potensieel beheer deur die regering oor bykans elke tipe besigheid en skep verreikende magte vir inspekteurs om persele te deursoek, goedere te konfiskeer en strafmaatreëls op te lê."
Die DA het verlede week 'n nasionale petisie begin vir die onttrekking van die wetsontwerp. Henro Kruger, die party se woordvoerder vir kleinsakeontwikkeling, het gesê dit gaan chaos veroorsaak as munisipaliteite, wat dit nie eens regkry om basiese dienste vol te hou nie, nog ook die mag bekom om te besluit wie 'n besigheid mag bedryf en wie nie.
Verskeie organisasies nasionaal het teenstand teen die Wetsontwerp op Sakelisensiëring uitgespreek.
Ann Bernstein, uitvoerende hoof van die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming (CDE), het in 'n verklaring gevra dat die wetsontwerp teruggetrek word.
"Dit vergroot potensieel beheer deur die regering oor bykans elke tipe besigheid en skep verreikende magte vir inspekteurs om persele te deursoek, goedere te konfiskeer en strafmaatreëls op te lê."
Die DA het verlede week 'n nasionale petisie begin vir die onttrekking van die wetsontwerp. Henro Kruger, die party se woordvoerder vir kleinsakeontwikkeling, het gesê dit gaan chaos veroorsaak as munisipaliteite, wat dit nie eens regkry om basiese dienste vol te hou nie, nog ook die mag bekom om te besluit wie 'n besigheid mag bedryf en wie nie.
Die sluitingsdatum vir kommentaar op die wetsontwerp was 28 November.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’