GEORGE NUUS - 'n Jong bergfietsryer se avontuur op die Sampies Plunge-fietsryroete bo Heatherlands het gesorg dat sy pa nie sommer sy 37ste verjaarsdag sal vergeet nie.
Sean van der Merwe (13), 'n leerder aan Laerskool Outeniqua, en 'n ouer vriend, Josh Jonker (17), het Dinsdagmiddag gaan bene rek toe dinge lelik skeefloop en Sean sy regter-fibula (tussen knie en enkel) op meer as een plek breek.
"Dis nou nie juis hoe ek my verjaarsdag beplan het nie, maar ek is so bly Sean is okay," het sy pa, Francois Fourie, gesê.
Sean se ma, Kiara Fourie, het nog dieselfde aand met George Herald gesels oor die voorval, onderwyl sy en Sean in die hospitaal gewag het op 'n prognose. "Ons kan so dankbaar wees vir soveel dinge wat net reg gewerk het," het sy gesê. "Sy vriend, Josh, was ongelooflik. Hy het hom teen die afdraand afgehelp, tot by 'n plek waar 'n voertuig hom kon optel. Ek is ook innig dankbaar vir my baas se hulp, Craig Anderson, wat mediese hulp ontbied het, en almal wat gehelp het en Sean ondersteun het."
Tydens die huidige skoolvakansie, op grendeltyd vlak 4, het kinders steeds nodig om gesonde dinge in die buitelug te doen. "Dit is egter so belangrik om nie alleen te oefen nie, en altyd 'n selfoon byderhand te hê," het Fourie gesê.
Volgens Chris Barrett, 'n lid van die Hillbillies-fietsryklub, het die seuns hom gegroet toe hulle vroeër die middag verby hom gery het. Roetebouers was op daardie stadium besig om te werk aan die Sampies Plunge-fietsryroete. "Na die ongeluk het die seuns my gebel en gevra om te kom help. Ek het gelukkig geweet waar hulle ry en die roetebouers kon vir my die presiese plek wys waar Sean geval het," het Barrett gesê. Barrett het hulle met sy bakkie opgelaai en na Arumweg geneem, waar Jacques Lourens van Frontier Medix by hom kon oorneem. Sean is toe na Mediclinic George geneem vir behandeling, waar hy moontlik 'n beenoperasie moet ondergaan.
Josh Jonker (17) hou sy vriend se drup vas.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'