Jannie, alom bekend as Jan Koerant, mag dalk aftree, maar uit die joernalistiek sal hy nooit tree nie.
Hy is in George gebore en het sy hele lewe in die omgewing gewerk - die staaltjie doen die rondte dat as jy wil uitvind of iemand werklik van George is, jy hom net moet vra of hy vir Jannie ken, en as die antwoord 'nee' is, dan weet jy hy jok!
Die koerantgogga het Jannie as skoolkind op Outeniqua Hoër reeds gebyt en in standerd ses het hy anoniem sy rugbyberigte onder die George & Knysna Herald se deur gestoot. As dit dan wel in die koerant verskyn het, het die adrenalien soos skrywersink deur sy are gebruis.
Na skool het Jannie eers by die tegniese afdeling van die poskantoor gaan werk om die pot aan die kook te hou, maar gereeld vryskutwerk vir die plaaslike koerant gedoen. Na vier jaar, in 1969, kon hy sy passie begin uitleef toe hy as joernalis by die destydse Het Suid-Western aangestel is. Hy het alles gedoen, van politiek, misdaad, howe, padongelukke en sport. "Ek het op 'n stadium besef ek sit al langer in die stadsraad as die raadslede!"
Na 14 jaar is Jannie as redakteur aangestel en in 1985 is die Het Suid-Western deur Group Editors gekoop en die George Herald is kort daarna gebore. Jannie het in dié tyd ook by die koerante in Knysna en Mosselbaai met nuus uitgehelp en joernalistieke opleiding vir die groep gedoen. In die middel 90's het hy begin spesialiseer in sport en is hy as sportredakteur van die George Herald aangestel. Deur die jare is Jannie telkens genader deur ander mediagroepe en koerante, maar uit sy geliefde George wou Jannie nooit sy vrou, Jolene en drie kinders ontwortel nie.
Nou, op 65, moet Jannie amptelik aftree, maar, 'n joernalis in murg en been, sal Jan Koerant se vryskutstories nog vir baie jare in die George Herald verskyn. "Ek is nog lank nie 'down en out' nie. Julle gaan nog baie lank met my te doen hê. Ek sien aftree as 'n nuwe fase en 'n horison wat verskuif, maar dit bly tog traumaties. 'n Mens se werkende lewe is in 'n oogwink verby. Dit voel soos nou die dag wat ek die eerste keer by 'n nuuskantoor ingestap het."
Soos Jan Koerant self sê, skryf sal hy skryf. So...as jy vir Jannie êrens raakloop, vertel hom 'n storie - die George Herald wil dit plaas!
.jpg)
Jannie is in die Suid-Kaap byna net so bekend vir sy en vroulief, Jolene se fantastiese spitbraaie as wat hy is vir sy verslaggewing.