GEORGE NUUS - Die George-munisipaliteit gaan oor die volgende paar weke 'n reeks instapinspeksies by geboue en besighede doen om na te gaan of daar voldoen word aan regulasies vir brandweer-, boubeheer- en elektriese installasies.
Dit volg weens die owerheid se kommer oor die toename in brande in geboue en woonhuise oor die afgelope paar weke.
In die jongste brand, wat om ongeveer middernag verlede Donderdag (13 Oktober) by 100 York Mall uitgebreek het, is groot skade aangerig.
Volgens André Fourie, eienaar van die gebou, is die omvang van die totale skade nog nie bepaal nie, maar daar is rookskade deur die hele gebou.
Die inwoners van die agt woonstelle op die boonste verdieping moes ontruim word weens rook, maar die brandweer het daardie deel om ongeveer 05:00 die oggend veilig verklaar vir hulle om terug te keer.
Die kern van die brand was in die haarsalon en dié is heeltemal uitgewis. Fourie vermoed die brand het ontstaan weens beurtkrag wat laat die vorige middag ingestel is.
"Ek vermoed dat daar dalk iets soos 'n haartang of haardroër aan vergeet is wat warm geword het nadat die krag weer aangekom het. Ons kom al soveel jare aan en het nog nooit enige probleme gehad nie, dis maar vir ons baie sleg. Ons het natuurlik versekering, maar ek weet nie of al die winkeleienaars verseker is nie. Daar is natuurlik ook waterskade," het Fourie gesê.
Die George-brandweer was baie vinnig op die toneel. Sekerheidspersoneel wat verbygery het, het Fourie se seun van die brand laat weet.
Nog 'n gebou van Fourie in Hiberniastraat het enkele weke gelede skade gehad nadat 'n brand in Power Fashion ontstaan het. Hierdie winkel en PEP Stores langsaan, wat ook beskadig is, staan steeds toe. Die brand daar het vermoedelik ontstaan by 'n kragopwekker wat in 'n stoor gebêre is na beurtkrag. "Met al die beurtkrag sal 'n mens huurders moet attent maak daarop om ekstra versigtig en bedag te wees op wat hulle doen," sê Fourie.
Hy het groot lof vir die brandweer gehad.
"Hulle was elke keer baie vinnig en profes-sioneel, en ek was beïndruk met hoe vinnig hulle 'n perseel afsper en beveilig."
Die brand by 100 York Mall het vermoedelik by 'n haarsalon ontstaan.
Die munisipaliteit se kommunikasiehoof, Chantel Edwards, sê die oorsake van die brande oor die afgelope ruk kon nog nie vir seker bepaal word nie, maar hulle vermoed dat dit moontlik 'n kombinasie kan wees van verouderde elektriese toerusting en die impak van beurtkrag. Daar is kommer oor die implikasies vir veiligheid waar kragopwekkers en batterye geïnstalleer is vir besighede om aan die gang te bly.
Die George-brandweer sal verskeie geboue oor die volgende paar weke inspekteer om te kyk na brandweertoerusting, nooduitgange, relevante inligtingsborde en brandveiligheidsertifikate.
Inspekteurs van elektrotegniese dienste sal kyk na moontlike elektriese en brandgevare, en oorlaaide, foutiewe of verouderde elektriese installasies. Elektriese toevoer sal met onmiddellike effek afgeskakel word as 'n gebou nie aan die vereistes voldoen nie.
Boubeheerinspekteurs sal konsentreer op die voldoening aan die nasionale bouregulasies.
Daar was erge rookskade by 100 York Mall na verlede Donderdag se brand.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'