GEORGE NUUS - 'n Geseëlde houtkissie, waarin vermoedelik as van 'n oorledene is, is opgetel in Vierde Straat baie naby aan die NG kerk Bergsig-gemeente. Dit het personeel van die gemeente se kantoor aan die kopkrap.
Die kissie is Vrydag 4 Junie deur 'n sekerheidsbeampte opgetel en by die kerkkantoor ingehandig. Dit is vermoedelik omdat daar 'n gedenkmuur by die kerk is.
Die houtkissie is 25 cm lank, 13 cm breed en 12 cm hoog. Bo-op die kissie is 'n metaalplaatjie waarop gegraveer is: Rus in vrede Cola.
Die geboortedatum is 01/06/2014 en die sterfdatum 07/10/2014.
Die kissie is in 'n goeie toestand. Daar word gespekuleer dat dit nie sommer van 'n voertuig kon afgeval het nie, want die kissie het geen ooglopende skade nie.
Wilna Jones, mediabeampte van die gemeente, het dit op die gemeente se Facebook-blad geplaas, maar teen Dinsdag was daar nog geen duidelikheid aan wie dit behoort nie.
"Dis baie hartseer. Dit behoort dalk aan iemand wat dit soek en nie weet waar dit is," het sy vertel.
Christa de Meyer, die koster, het gesê hulle het geen idee aan wie dit behoort nie. "Ons was uit die veld geslaan toe dit hier ingehandig is."
Enigiemand wat meer lig op die saak kan werp, word gevra om die kerkkantoor by 044 871 1338 of 079 136 8107 te skakel.
Die houtkissie waarin vermoedelik as van 'n oorledene is, is in 4de straat Bergsig opgetel. Foto: Eugene Gunning
A small wooden box that probably contains the ashes of a deceased was found on Friday in 4th Street, Bergsig, and handed in at the offices of the Dutch Reformed Church Bergsig. An inscription on the box reads: Rus in vrede Cola 01/06/2014-07/10/2014.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'