TUINROETE NUUS - Oorywerige vingers en 'n haastige mond op sosiale media kan jou in warm water land beland. Dit het opnuut verlede week ter sprake gekom toe onrus en plundery in KwaZulu-Natal en Gauteng voorgekom het.
Talle voorbeelde van fopnuus en opruiende plasings het die ronde op sosiale media gedoen. Ook grappe met lasterlike ondertone is versprei.
Kenners het vandeesweek gewaarsku dat mense wat hul aan sulke dade skuldig maak, probleme kan verwag.
Johannes Jumat, 'n vennoot by Raubenheimers Prokureurs, sê mense kan strafregtelik vervolg word as hulle geweld aanhits.
"Wees versigtig wat jy op sosiale media plaas of aanstuur. Die verspreider kan ook medepligtig wees. Straf sal afhang van die erns van die misdaad en die gevolge daarvan. Dit kan selfs opeindig in direkte tronkstraf."
Jumat sê mense moet aan die gevolge vir hulself dink. "Dit is beter om dit twee of drie keer te lees voordat jy dit versprei."
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sê ook mense moet versigtig wees vir enige plasings. Hy het benadruk hy verwys nie na enige spesifieke insident(e) die afgelope tyd nie.
In die algemeen is dit belangrik dat jy verantwoording vir plasings moet kan doen, of jy stel jouself bloot aan krimineel-strafregtelike vervolging en siviele aksies.
Dit sluit alle plasings in, ook van humoristiese en godsdienstige aard.
Hy het mense gemaan om versigtig te wees om nie paniek te saai nie oor die negatiewe impak op stabiliteit.
Polisie tree op
Die polisie sal nie enige plasings op sosiale media duld wat fopnuus is of wat opruiend van aard is nie. Dit was die sterk boodskap wat na vore gekom het tydens 'n vergadering verlede Donderdag, 15 Julie. Die vergadering is deur die Garden Route-distriksmunisipaliteit gereël.
Tydens die vergadering het brig. Phumzile Cetyana, waarnemende hoof van die polisie se Eden-gebied, bekendgemaak dat verdagtes in Thembalethu aangekeer is vir 'n plasing op sosiale media.
Dit was nadat 'n klagte ontvang is oor 'n gesprek op Facebook wat geweld kon ontlok.
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het Maandag gesê daar is beslag gelê op telefone wat vir ontleding/analise gestuur is.
Die twee persone wat vir ondervraging aangekeer is, is kort na hul arrestasie weer vrygelaat en nie aangekla nie.
"Die ondersoek gaan voort en die dossier kan weer aan die vervolgingsgesag voorgelê word na afhandeling van die ondersoek," het Pojie gesê.
Overly keen fingers and a hasty mouth on social media can land you in big trouble. The matter was again in the spotlight last week when riots and looting took place in Kwazulu-Natal and Gauteng. Fake news and incendiary comments were posted on social media leading to panic. Experts warn that people should be responsible when posting.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'