GEORGE NUUS - 'n Aansoek om die PW Botha-rylaan te hernoem na die Abeeda Harris-rylaan is Dinsdag by die kantoor van die munisipale bestuurder, Trevor Botha, ingedien.
Die voorsitter van die Abeeda Harris-stigting, Wilbur Harris, het die versoek gekoördineer met Nasionale Erfenismaand en die 41ste herdenking van sy suster se dood.
Volgens Harris, 'n Icosa-raadslid van die George-stadsraad, glo die stigting dat so 'n naamsverandering sal help met die proses van nasiebou, versoening en die regstel van die wanbalans van die verlede.
Abeeda Harris was twaalf jaar oud toe sy op 13 September 1976 deur die onluspolisie doodgeskiet is.
Die jong slagoffer was 'n leerder van Heidedal Primêr. Sy was blykbaar op pad winkel toe om lekkers te koop toe sy onwetend deur 'n area gestap het waar die polisie en jeugdiges van die gemeenskap slaags geraak het.
Sy is deur 'n koeël getref en in 'n polisiewa gegooi waar sy later gesterf het.
Hierdie voorval het plaasgevind in die tyd toe jeugdiges landswyd teen die destydse apartheidsregering betoog het.
Abeeda is een van 'n paar onskuldige mense in Borcherds wat daardie dag hul lewens verloor het.
"Die rol wat PW Botha gespeel het tydens apartheid, laat veel te wense oor as gevolg van menseregteskendings en vergrype tydens die apartheidsera," lees Harris se skrywe aan Botha.
Harris onderneem om 'n verklaring uit te reik sodra 'n antwoord ontvang word.
Die George Herald wag vir inligting van die munisipaliteit rakende die proses wat 'n aansoek om 'n naamsverandering moet ondergaan.
* An application to rename PW Botha Boulevard to the Abeeda Harris Boulevard was filed on Tuesday at the office of the Municipal Manager, Trevor Botha.
The chairman of the Abeeda Harris Foundation, Wilbur Harris, coordinated the request with National Heritage Month and the 41st anniversary of his sister's death.
Abeeda was twelve years old when she was shot dead by the riot police on 13 September 1976, in Borcherds.
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'