GEORGE NUUS - Dr. Lawrence Lottering was beter bekend as die skoolhoof van Hoërskool George - 'n skool waar hy 21 jaar van sy onderwysloopbaan spandeer het voor sy aftrede in 2013.
Morton van Rooyen, die huidige skoolhoof, het sy simpatie met die familie asook die skoolgemeenskap op sosiale media gedeel. "Mag u siel in vrede rus Doc."
Hy vertel dat dr. Lottering sedert 1992 prinsipaal van Hoërskool George was. "Hy was ook 'n oudleerder van die skool en het daarin geslaag om die skool uit te bou tot 'n "School of Choice".
Sedert Doc se termyn, ontvang die skool jaarliks 'n groot aantal aansoeke vanaf ouers om hul kinders by Hoërskool George in te skryf. "Hy sê van die redes hiervoor is die feit dat hul skool akademies sowel as op sportgebied geweldig goed presteer.
Ruth Lottering, Doc se vrou, sê haar man was "rustig" na hy afgetree het. "Hy was maar net tuis of het gehelp met inkopies." Sy vertel hulle kon onlangs as familie 'n vakansie onderneem wat Doc nog altyd wou doen. Sy vertel vir 'n hele twee weke het hulle getoer, deur die woestyn tot in Zimbabwe.
Volgens Ruth was dit kort na hulle terug was by die huis, wat Doc eendag net siek geword het. Hy is vir twee weke in die hospitaal opgeneem en daarna het dokters hom ingelig dat hy kanker van die pankreas het.
Dr. Lawrence Lottering is op 31 Oktober oorlede.
Dit was 'n groot skok vir hom en sy familie, veral omdat daar geen simptome was nie.
"Dokters het hom 6 tot 12 maande gegee, maar alles was oor in vyf weke." Ruth vertel die kanker het so gou versprei, hulle het gedink hulle sou meer tyd met hom hê. Ook sê sy het hy altyd van rug en maagpyn gepla, omdat hy 'n dermkwaal gehad het, maar die kanker was 'n skok.
Doc laat sy vrou Ruth, hul seun Jonathan, dogter Rochelle en drie kleinkinders agter. Die begrafnis is komende Saterdagoggend 09:00 by St Mary's Katolieke Kerk te Rosemoor. Daar gaan ook vanaand, Donderdag om 18:30 'n troosdiens gehou word by St Vincent Palotti in Pacaltsdorp.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'