Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Hy het alles in 'n oogwink verloor. Ettiene Haman (37), 'n gekwalifiseerde elektrisiën, was in Maart vanjaar op pad terug na Kaapstad, nadat hy as subkontrakteur kringtelevisiekameras in Pretoria geïnstalleer het. Met sy terugkeer na sy tuisdorp het hy, sy meisie en sy babahondjie, Titan, 'n motorongeluk in 'n bergpas naby Willowmore oorleef.
"Dit het verskriklik gereën en my bakkie se wiele het gegly. Ek het beheer verloor en die bakkie het eers teen die berg gebots en met die impak, teen die versperring langs die afgrond," het Haman gesê.
Alles wat agterop die bakkie was, insluitend die bakkie se kappie, het by die afgrond afgeval.
"Dit is bloot God se genade dat my hond en die meisie nog leef," het Haman gesê. Skaars tien minute voor die ongeluk het hy die bakkie van die pad afgetrek, sy karavaan afgehaak en die meisie en hond wat agter in die bakkie geslaap het, na die kajuit van die bakkie laat skuif.
"Dit was baie koud en ek het gedink hulle gaan warmer wees binne in die kajuit. Ek wou die karavaan afhaak want die bakkie het teen die opdraand gesukkel en ek was bang daar is fout met die ratkas," het hy gesê. "As hulle agterop die bakkie was, was hulle nie vandag hier nie."
Kyk 'n video hieronder:
Die straat slaap hard
Vandag is Titan al wat Haman oor het. Hy moes die karavaan verkoop om te oorleef en hy en die meisie is nie meer saam nie. George was die naaste groot dorp met 'n belofte van 'n nuwe begin.
Sy eerste aand na die ongeluk moes Haman op straat slaap, want hy kon nie 'n herberg vind wat 'n hond sal huisves nie. Daarna kon hy vir 'n ruk oorleef nadat hy sy karavaan verkoop het. Nou lyk dinge anders.
'n Barmhartige Samaritaan, wat anoniem wil bly, neem daagliks vir Haman en Titan iets om te eet (lees 'n brief in die week se George Herald). Sommige inwoners het bespiegel dat hy 'n dwelmverslaafde is, maar Haman het 'n urinetoets laat doen om sy weldoener die versekering te gee dat dit nie die geval is nie.
"Sy was meer senuweeagtig as ek. Ek weet mos ek is skoon," het hy laggend gesê. "Maar nou weet sy."
Die nagskuiling gaan nie vir Haman werk nie, want hulle huisves nie diere nie. "Ek sal nooit my hond laat gaan nie, hy is my seuntjie. Ons is baie geheg aan mekaar," het hy gesê.
Hy hoop op 'n werk wat 'n inkomste sal gee waarmee hy weer op sy voete kan kom. Sy boodskap aan ander: "Moenie dink jy kan nie alles verloor nie. Waardeer wat jy het... jou familie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'