GEORGE NUUS - “Wat jy saai, sal jy maai.” Dié Bybelse gesegde blyk veral van toepassing te wees op Colin du Pisane (40), George se eie Mister Global SA 2025-semifinalis.
Colin dra verskeie baadjies, insluitende die van model, akteur, boer, anti-boelie ambassadeur en hoof van ’n nie-winsgewende organisasie wat kos en ander noodsaaklikhede aan behoeftiges voorsien.
George Herald het vroeër die week met Colin gesels nadat hy onlangs as semifinalis in dié kompetisie aangekondig is.
Colin se nederigheid, ten spyte van dit wat hy al alles bereik het, was baie duidelik sigbaar. Colin leef absoluut vir ander mense se welsyn.
Hy het groot planne om op die stukkie grond in Thembalethu waar hy tans met skape, bokke en groente boer, ’n groot voedselsentrum op te rig - nie om geld in sy eie sak te steek nie, maar om kos op elke honger mens se bord te sit. Hy glo almal moet eet en as ’n mens kan plant kan jy eet. Dus is een van sy groot passies om kinders te leer om groente te plant.
2024 titels
Colin is tans die titelhouer van Eden SA 2024 en Top Model SA 2024 en hoop om in Julie vanjaar deur te dring na die eindronde van die Mister Global-kompetisie in Thailand. Maar voor hy sy tassies kan pak en op ’n vliegtuig na Suid-Oos Asië kan spring moet hy homself eers op eie bodem bewys.
Kriteria
Karen Grey van Crawlers and Crowns verduidelik die kriteria waarvolgens die semifinaliste beoordeel word.
Eerstens kyk die beoordelaars na maatskaplike werk en samewerking.
Tweedens kyk hulle na die selfvertroue waarmee deelnemers praat en hoe hulle hulself uitbeeld.
Dan word daar ook na deelnemers se fisieke voorkoms asook hulle ondersteuningsnetwerk gekyk.
Laasgenoemde is veral waar die Eden-gemeenskap ’n groot bydrae kan lewer om Colin oor die wenstreep te kry - deur in groot getalle vir hom te stem.
Wenner in Julie gekies
Die Mister Global SA-wenner word op Saterdag 26 Julie tydens ’n glansgeleentheid in Johannesburg aangekondig. Hier sal Colin in ’n hele paar spoggerige uitrustings op die verhoog moet verskyn. Hy nooi dus belangstellendes uit om hiermee te help in ruil vir blootstelling op sosiale media.
Mister Global, die wêreldwye skoonheidskompetisie vir mans, is vir die eerste keer in 2014 aangebied as ’n promosie-funksie en teen verlede jaar het meer as 70 lande en streke deelgeneem.
Suid-Afrikaners soos Gerrie Havenga, Dwayne Geldenhuys en Mosselbaai se Anton Siebert het voorheen goed presteer.
Stem vir Colin
Om vir Colin te stem, SMS “win MGSA 13” na 47439 (SMS kos R3)
Die publiek kan van 3 Maart tot 26 Julie stem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’