Gallery
GEORGE NUUS - Senior burgers van die Golden Oldies-klub het op Wêrelddiabetesdag 'n interessante en leersame oggend geniet danksy 'n diabetesbewusmakingsprogram wat die Wes-Kaapse departement van gesondheid aangebied het.
Hulle het in hul gebruiklike saal in Mandela-boulevard byeengekom waar daar eers 'n ysbreker in die vorm van 'n oefensessie gehou is met onder meer balspeletjies, teikenskiet en naellope.
Claudel Draai, gesondheidspromotor by die departement, het oor selfbestuur gesels en seniors ingelig oor die belangrikheid van die korrekte manier om chroniese medikasie te neem asook die rol wat dieet speel in die beheer van chroniese toestande.
Beatrie Zandberg, dieetkundige van die departement, het die onderwerp van koskeuses en die verstaan van kosetikette aangeraak.
Lede is ook geweeg, hul suikervlakke is getoets en hulle het aan 'n vasvra oor diabetes deelgeneem.
Dis rek en strek om die bal agtertoe aan te gee.
Elkeen het ook 'n onderneming onderteken om gedurende November sekere ongesonde kossoorte te vermy.
Die oggend is afgesluit met verversings.
ARTIKEL & FOTO'S: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'