GEORGE NUUS - 'n Onderwyser van Pacaltsdorp wat verlede jaar op 1 Julie op vroeë aftrede gegaan het, het nie verwag dat hy 'n swart Kersfees sou beleef omdat hy vir sewe maande sou moes wag voordat hy sy pensioen begin ontvang nie.
Die man, wat anoniem wil bly, sê dit het hom finansieel geknou. Hy het in Januarie eers sy eerste pensioenuitbetaling en opgehoopte pensioenbedrag ('lump sum') ontvang.
"Dit was 'n Kersfees wat ek nie vir enigiemand toewens nie. My familie wat na my opsien as die broodwinner en voorsiener moes my help. Dit was uiters traumaties.
"Ek probeer nou al die agterstallige betalings en premies inhaal. Hoe dink die pensioenfonds moet 'n mens jou mediesefondspremies en ander maandelikse verpligtinge nakom as jy vir so lank sonder 'n sent sit? Dit is net nie aanvaarbaar nie. Daar is mense wat binne drie maande uitbetaal word."
Hy is ook ontevrede omdat sy opgehoopte uitbetaling slegs ongeveer 'n derde was van dit wat hy gekwoteer is toe hy voor sy aftrede 'n kwotasie aangevra het. In stede van ongeveer R800 000 is slegs R240 000 aan hom uitbetaal.
"Ek wil weet hoe het hulle hierdie som gemaak en ek vra vir 'n herberekening."
Katlego Tselapedi van die pensioenfonds se kommunikasieafdeling het by navraag gesê hul stelsel wys dat die onderwyser twee diensperiodes gehad het: Die een is in 1998 uitbetaal en die ander periode het geduur van 2000 tot sy jongste bedanking.
"Die stelsel toon nie die bedrag wat hy beweer vir hom gekwoteer is nie, maar slegs dit wat hy ontvang het," het sy gesê.
Die klaer se reaksie hierop was, "Geen wonder ek het nie my maandelikse pensioen vir Februarie ontvang nie. Ek het vir seker nie in 1998 enige uitbetaling ontvang ten opsigte van diensjare nie."
Tselapedi het beloof om hom te skakel en sy navraag uit te klaar.
Die George Herald het voorheen berig oor ander pensioenarisse wat vir etlike maande gewag het voordat hulle hul pensioenuitbetalings ontvang het.
Die regeringspensioen-administrasieagentskap (GPAA), wat verantwoordelik is vir die verwerking van aansoeke, het in antwoord op vorige klagtes gesê dat aansoekers baie keer nie aansoekvorms akkuraat voltooi nie en soms ontbreek ander nodige dokumentasie. Dit vertraag die verwerking van 'n aansoek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'