GEORGE NUUS - Hy het gehoop vir hulp om 'n uitsetting teen te staan, maar Riaan Jansen van Rensburg en sy gesin se pleidooi was soos 'n nies in 'n donderstorm.
Sondagoggend, 13 Julie, bel Riaan inderhaas Pacaltsdorp-polisie, want sy huurhuis is ingeval deur 'n groot groep mense wat hul besittings tot op die sypaadjie in Bluegumstraat, Seaview, dra.
"Ek het dit nie sien kom nie," sê Riaan, wat beweer daar is geen hofbevel vir 'n uitsetting aan hom oorhandig nie.
"Ek betaal elke maand my huur. Daar is altyd moeilikheid met ons krag, want die huiseienaar betaal nie die munisipale rekening soos sy moet nie, dan word daai geld van my eenhede afgetrek wanneer ons krag koop. Ek betaal dit dan minder op my huishuur, en dan is daar dreigemente en so aan van die eienaar. Maar, dit gaan al aan vir jare," reken Riaan.
Hy bevestig dat hy 'n paar weke gelede, 'n briefie van die eienaar ontvang het, wat hom kennis gee.
"Die probleem is," sê Riaan, "sy dreig baie.
"Sy is ook lief daarvoor om die huur te verhoog twee weke voor ons moet betaal. "Tog het ons nooit 'n hofbevel ontvang om die huis te ontruim nie, en sy het elke maand haar huurgeld ontvang."
Alle pogings van George Herald om kommentaar van die eienaar te bekom het misluk.
'n Klop aan die deur
Dit was egter skaars lig, Sondagoggend, toe Riaan, sy vrou, hulle dogter en sy vrou se neef besoek ontvang. "Die eienaar het mense gestuur om na die toilet se drup te kom kyk, wat ek al weke terug aangemeld het. Maar toe ek omdraai, is daar tussen 10 en 15 mans in ons huis, besig om meubels en besittings te gryp en uit te dra. Hulle het my aangerand en my vrou teen 'n muur gedruk. Dis toe wat ek die polisie ontbied om te help."
Blykbaar het die polisie opgedaag - vier beamptes, maar in stede om hulle te help, is Riaan glo deur een van die beamptes vyf minute gegee om die huis met sy gesin te verlaat.
"Ek kon dit nie glo nie, hulle wou my nie kans gee om te praat nie. My goed is voor hul oë gesteel. Ek kon sien hoe die groep mans my goed, soos my Zippo's, in hul sakke druk. Hulle het goed gebreek en gegryp en eenvoudig voor die huis gegooi. Ons was hulpeloos."
Volgens Riaan is hy voortdurend deur die polisie met rassistiese opmerkings geteister. Riaan is wit en sy vrou is swart. "Is jou g*t te wit vir die plakkerskamp? Ons het 'n nommer vir die shelter," het een polisieman glo gesê.
Die voorsitter van die buurtwag, Ernest Damons, het sy misnoeë rondom die situasie uitgespreek. Dit het Sondag behoorlik op die WhatsApp-groepe gegons soos inwoners oor die voorval praat.
Riaan het intussen 'n saak van aanranding en diefstal teenoor die huiseienaar gemaak, en was gister besig om 'n aparte klag in te dien teenoor die polisiebeamptes wat, volgens hom, hul aan wangedrag skuldig gemaak het.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sersant Chris Spies, het bevestig dat die polisie na die perseel gestuur is, na 'n dispuut tussen 'n verhuurder en 'n huurder. "Volgens ons verslae beskikbaar op hierdie stadium, is die polisie ontbied na die voorval deur die huurder van die perseel. Met hul aankoms is meubels buite die huis gevind.
"Die polisiebeamptes was glad nie betrokke by die uitsetting nie en die huurder het 'n kriminele saak rondom die beweerde onwettige uitsetting geopen. Hierdie saak word ondersoek. Bewerings van onprofessionele gedrag deur polisie-beamptes word intern ondersoek."
- Die gesin woon tans in hul buurman se motorhuis. Riaan is werkloos, maar het voorheen gewerk in die sekuriteitsbedryf, in bemarking, in pakhuise en as 'n toesighouer by 'n kaasfabriek. Kontak hom by 071 847 2508.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’