GEORGE NUUS - Die Noonan-gesin van Parkdene, wat die naweek ternouernood aan die dood ontkom het nadat die grootste deel van hul huis op hulle ineengestort het, is vroeg vandeesweek uit die hospitaal ontslaan.
'n Volgelaaide trok het Saterdagaand, 31 Januarie, omstreeks 20:40, in hul huis by Saturnusstraat 38 ingeploeg. Die vier gesinslede wat tuis was, Henry (53) en Elise (54) Noonan en twee van hul seuns, Wayden (31) en Kenan (25), het geringe beserings opgedoen.
Volgens Elize was dit 'n hernude skok toe hulle van die hospitaal af terugkeer en hul huis in die daglig sien. Dit was donker toe hulle Saterdagaand van die chaotiese toneel af hospitaal toe geneem is.
"Saterdagaand toe ek op die bure se gras neergelê is, nadat die reddingspan my uit die huis gehelp het, was daar vreeslik baie ligte en geraas van die omstanders wat in die straat voor ons huis gestaan en kyk het. Toe was dit asof dit nie werklikheid was nie, asof ek in 'n movie was," het sy Dinsdagoggend op die toneel aan George Herald vertel.
Met trane wat oor haar wange loop, het sy gesê die realiteit het ingeskop met die aanskou van die puin. Dit was hul tuiste vir die afgelope 27 jaar ná hulle getroud is. "Die huis was 'n trougeskenk van Henry se ma."
Henry was verslae. "Ons weet nie waarheen nou nie. Ons het nie versekering nie," het hy gesê.
Behulpsame lede van die buurtwag het van Saterdagnag af by die huis gewaak en met opruimingswerk begin om te kyk wat hulle kan herwin. Die huis sal waarskynlik gesloop moet word.
Die egpaar was Saterdagaand in hul sitkamer besig om televisie te kyk toe die trok die huis tref. Die impak het die banke saam met hulle verskuif en hulle na die agterkant van die huis gestoot.
Hulle was onder die rommel vasgekeer en moes wag tot 'n reddingspan hulle te hulp kon snel.
Kenan en Wayden was op hul beddens. "Dis 'n stapelbed en ek slaap op die boonste een. Ek het opgestaan om badkamer toe te gaan. Op pad terug sien ek ligte, maar dink toe dis my ouers se TV. Die volgende oomblik tref die trok se bullbar my."
Hy sê as hy bo-op sy bed was op daardie oomblik, sou hy nie oorleef het nie. Die trok het met sy voorwiele in die lug tot stilstand gekom bo-oor Wayden. "My bed het soort van 'n skerm oor hom gevorm en het gekeer dat hy meer ernstig beseer is. Hy het 'n hou teen die kop en 'n sny opgedoen wat baie erg gebloei het."
Elize vertel sy het aanmekaar gegil, want sy wou so gou moontlik uitkom. "Ek was bevrees dat alles op ons sou insak en ek wou net weet of die seuns oukei is. Dit was 'n nagmerrie. Ons wil opreg dankie sê aan die reddingspersoneel, die buurtwaglede vir hulle wagstaan en die opruiming, en aan familie en vriende vir hulle bystand."
Die Noonans glo dis 'n wonderwerk dat hulle lewendig ontkom het.
Die Noonans se derde seun, Rayden, Wayden se tweelingbroer, was gelukkig nie tuis nie.
AO Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoord-voerder, het gesê die Conville-polisie het 'n saak van roekelose en nalatige bestuur geopen. Die polisie is Saterdagaand na die toneel ontbied.
"Met hul aankoms het lede die bestuurder, wat ten tyde van die ongeluk buite die voertuig was, asook vier inwoners van die woning aangetref. Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek en die dossier sal na die Nasionale Vervolgingsgesag gestuur word sodra die ondersoek voltooi is."
Die vragmotorbestuurder se identiteit is nie aan die koerant bekend nie en die joernalis kon dus nie na sy toestand verneem nie.
'n Dringende oproep vir bystand vir die gesin is deur die burgemeester, Browen Johnson, uitgestuur. Hulle benodig dringend veilige, tydelike stoorruimte en humanitêre ondersteuning. Mense wat wil uitreik, kan Henry Noonan by 069 531 4009 kontak.
Die gesin sal ook hulp nodig hê met die verwydering van bourommel.

‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’