GEORGE NUUS - Die George Oumotorskou se 28ste herdenking het vanjaar weereens ‘n platform geskep waar motorentoesiaste hul groot liefde met die breër publiek kon deel.
Die George Oumotorskou (GOMS) is op Saterdag 8 Februarie by Eden Tegniese Hoërskool se sportgronde deur meer as 12 000 besoekers bygewoon. Dié jaar se Britse tema is in styl gevier met ‘n Bentley en Rolls Royce uitstalling.
HTS Eden is een van die begunstigtes wat by die dag se fondse sal baat. Ander sluit in Carpe Diem Skool, Glenwood House, First Care Wild Fire Support, George Rotariërs, Round Table, George Vryburgers, Garden Route-dierebeskermingsvereniging en Kansa.
“Daar word altyd gevra: Hoe meet 'n mens die Oumotorskou se sukses? Gaan dit oor die getal mense wat dit bywoon, die hoeveelheid uitstallers? Of is daar ook dieperliggende ekonomisie en sosiale voordele wat die skou teweeg bring?" So verduidelik hooforganiseerder, Alewijn Dippenaar.
Behalwe vir die geleenthede vir alle betrokke organisasies en begunstigtes, skep die skou ook 'n geleentheid om waardevolle vaardighede en kennis te bemeester. Volgens Dippenaar hou die skou yslike ekonomise voordele in vir die groter George omgewing en sy talle diensorganisasies.
Dié jaar se Britse tema is in styl gevier met ‘n Bentley en Rolls Royce uitstalling.
Die geleentheid is onder meer ondersteun deur George-munisipaliteit, MUA, Midas, JP Spares, Standard Bank, Algoa FM, Protea Hotel by Marriott King George, George Herald, Castle Lager en Coca-Cola.
Lizèl van der Westhuizen, bemarkingsbestuurder van Protea Hotel by Marriott King George, en haar span het gesorg dat medeborge en ander BBPein die Protea-gasvryheidstent met verversings en koel verfrissings bederf word.
Passieprojek
Een van hul geëerde gaste het stories gedeel oor sý inskrywing: 'n Babablou 1963 Cadillac - duidelik ‘n passieprojek vir Kapenaar Brett Gage.
“Ek baklei steeds met plaaslike owerhede om die motor te registreer, jare nadat ek haar in Amerika gaan haal het. Maar wanneer jy die Chapman’s Peak-pad ry op ‘n lieflike Kaapse dag, kan niks jou pret bederf nie,” vertel Gage.
Die lieflike ryding se afdak, vensters en meer word deur geluidlose hidroliese meganismes beheer, en toegang tot die petroltenk is deur ‘n linkeragterlig wat opgelig word vir dié doeleinde. “En daar pas ten minste drie lyke in die kattebak,” skerts hy.
Tema-parades
Stories oor die oorsprong van trekkers en oumotors wat deel uitgemaak het van die dag se tema-parades is met besoekers gedeel. Tydens die ‘Post-vintage’ (1930-’45) optog was een van die jongste bestuurders Aiden Trahms, 20, van Plettenbergbaai.
Hy het trots vertel hoe die oumotorgeen deur sy oupa oorgedra is – ‘n nalatenskap na aan die hart vir skou-organiseerders, die Suid-Kaap Oumotorklub (SKOMK).
SKOMK voorsitter Dr Waldo Scribante het tydens die oggend se verwelkomingsrede verduidelik hoe George se Oumotorskou nou die land se grootste motorskou geword het. Hy is op die mikrofoon bygestaan deur George-burgemeester, Jackie von Brandis, en Tuinroete-distriksmunisipaliteit se burgemeester, Andrew Stroebel.
Getuigskrifte
Scribante het sedertdien juigende getuigskrifte van ver en wyd ontvang – hiermee ‘n uittreksel van ‘n DKW Suidkaap-boodskap: “Weereens ‘n absolute fees van toenteryd tot nou se wiele. Kleure, te veel om op een palet te sit. Fabrikate en modellle wat opgesoek en nageslaan moet word in heendedaagse Wikipidia!
“Aan die reëlingskommitee: julle het dit weer reggekry om alles glad te laat verloop. Maande se beplanning en reëlings en ja, dan kom daar nog agterosse wat die aand voor die wyd-geadverteerde skou ‘n voertuig wil inskryf... Dit vertel dat ons in Suid Afrika, en veral hier in die Suid Kaap, die ‘crème de la crème’ van motorskoue het!”
Altesaam 16 plaaslike diensverskaffers – van tente tot klank en koeldrank, toiletgeriewe, elektriese en mediese dienste, en sekuriteit – het ver oor ‘n miljoen rand verdien het deur hul betrokkenheid by die motorskou.
“Die tweede belangrike aspek is die 140 stalletjies, van snuffel tot kos en motorverwante goedere, wat ‘n omset van tussen R250,000 en R350,000 tydens die skou gehad het," sê Dippenaar. "Neem dan akkommodasie in aanmerking en tel ‘n verdere R2.5-miljoen by hierdie bedrag, verdien deur diegene wat oornagplek kon aanbied vir duisende besoekers.”
Dippenaar voeg by dat ‘n konserwatiewe skatting van 1 000 motors wat elk R500 se brandstof ingooi, ‘n vinnige ekstra R500 000 gegenereer – en dan praat mens nog nie van wat spandeer is by kafee’s, winkels, restaurante en ander vermaaklikheidsoorde nie.
“Die Oumotorskou se bemarkingswaarde vir George is dus tussen R4-miljoen en R5-miljoen werd. En dis sonder om die R300 000-plus in te reken waarby ons gekose begunstigtes gaan baat. Ons bedank almal wat bygedra het om GOMS25 so suksesvol te maak."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’