DE RUST NUUS - Die Optimum Meiringspoort-wedlope buite De Rust vier op 12 Oktober sy 30ste bestaansjaar en deelnemers sowel as besoekers kan uitsien na 'n naweek vol aksie en lekkernye. Die wedloop het oor die jare een van die hoogtepunte op die hardloopkalender geword, met hardlopers wat oor die skilderagtige Meiringspoort-brug beweeg.
Behalwe vir die marathon, bied die geleentheid ook ‘n jaarlikse Feesbasaar wat propvol plaaslike lekkernye en handgemaakte items is.
Hierdie jaar is geen uitsondering nie en daar is te kies en te keur van heerlike kosse en ander lekkernye teen bekostigbare pryse.
Basaar tye
Die basaar begin reeds Vrydag om 11:00 en sluit om 21:00. Saterdagoggend is die basaar reeds van 07:00 af oop en kan koffie en tee sommer vroeg gekoop word.
Wat is als te koop?
Poedings is beskikbaar teen R30, drie pannekoeke teen R25, en knypkoeke vir R40. Vir diegene wat lus is vir iets sout, sal daar skyfies teen R30 te koop wees, asook kerrie-en-rys, butterchicken of hoenderroerbraai teen R60. Die roosterkoeke is altyd ‘n gunsteling, en Saterdagoggend vanaf 10:00 kan besoekers ook braaivleis geniet teen R90. Die koffiewinkel is ook ‘n gewilde stopplek vir besoekers wat ‘n bietjie wil ontspan met ‘n koppie koffie en iets soets. Karoo-vleis, biltong en droëwors sal ook beskikbaar wees vir diegene wat ‘n egte smaak van die streek soek.
Maak seker om jou beursie vol kontant te bring en geniet die Karoo-gasvryheid voor, tydens, en na die wedloop. Daar is ook kaartfassiliteite beskikbaar. Kom ondersteun die plaaslike gemeenskap en geniet die feestelike atmosfeer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’